Agri Cape Week 2009 a huge success

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 20 April 2009.

Navrae: Leensie Streicher

 

Agri Cape Week 2009 'n reuse sukses

 

‘n Nuwe era het aangebreek vir die aanbied van Landbou-ekspo's na die Agri Cape Week die naweek by die Hoër Landbouskool Boland ten einde geloop het. Die suksesvolle landbou ekspo, met FNB as ankerborg het ‘n wen-formule gevestig waar ‘n kombinasie van uitstallings, demonstrasies, indaba, kundigheid en die regte perseel en infrastruktuur ‘n geleentheid opgelewer het wat goeie interaksie en waardetoevoeging tot gevolg gehad het.

 

Op Donderdag 18 April is die ekspo afgeskop met Agri Wes-Kaap se streekkongres, waar top-sprekers soos Dr. Roelof Botha opgetree het. Terselfdertyd het Dr. Tobias Doyer van Santam Agri ‘n vol saal opkomende produsente toegespreek in ‘n konferensie vir opkomende landbou, aangebied deur USAAA (United South African Agricultural Association). Die tema van die konferensie was "Opkomende boerdery, die begin van kommersiële boerdery." Daarna het Netafim uitstekende besproeiingsprogramme vir die opkomende boer aangebied. Vir die dames is ‘n heerlike vroue-oggend, met Annelie Botes as gasspreker aangebied, met ‘n heerlike ontbyt, en interessante sprekers van Ou Mutual en Colors wat die dames toegespreek het.

 

Intussen is demonstrasies en uitstallings op die res van die terrein voortgesit en kon leerders van die Boland Landbouskool ook die geleentheid benut om eerstehandse kennis van die jongste tegnologie in die landboubedryf op te doen. Die Donderdag-program is die aand afgesluit met ‘n galageleentheid aangebied deur FNB, waar Mike Vacy Lyle, FNB Kommersieel se Hoof van Verkope en Kliënteverhoudinge die rimpeleffek van die 2010 Sokker Wêreldbeker op ‘n insiggewende wyse vir gaste by die geleentheid aangebied het.

 

Vrydag se gebeure het onder andere ‘n Vinpro inligtingsdag ingesluit vir produsente van die sagtevrugtebedryf, wat baie goed bygewoon is. Cees Bruggemans, Hoofekonoom van FNB het tydens ‘n besigheidsontbyt die ekonomiese klimaat vir veral die uitvoerbedryf bespreek, ‘n goeie dosis finansiële pitkos vir produsente en rolspelers in die landbou-uitvoer sektore. Ook bydraes van Anton Rabe van die SPT (Sagtevrugte Produsente Truste), Su Birch van WOSA en Wihann Victor van die Inmaakvrugte produsentevereniging het waardevolle insette tot die sessie gelewer. 

 

Die Suid-Afrikaanse Tafeldruif Industrie (SATI) het ook ‘n inligtingsessie vir sy lede aangebied, waar veral die SEB projekte en tegniese uitdagings in die Tafeldruiwe industrie bespreek is. ‘n Hoogtepunt op die Agri Cape Week-program was die aanbieding van ‘n politieke debat met swaargewig politici, insluitende Mnr. Cobus Dowry, ANC minister van Landbou in die Wes-Kaap en die Nasionale President van COPE, Mosiua Lekota.  Freek Robinson van RSG Praat Saam-faam het die geleentheid gefasiliteer en lede uit die gehoor het relevante vrae aan verteenwoordigers van die ACDP, ANC, COPE, DA, OD en VF+ gestel. Produsente van verskeie streke, insluitend Worcester, Paarl, Durbanville en die Swartland het die politici gepeper met vrae oor grondsekerheid, subsidies, landbounavorsing en verskeie ander kwessies in die landbousektor.

 

Saterdag, 18 April het ‘n feestelike atmosfeer al vroegoggend posgevat met Rugby-wedstryde tussen Boland Landbouskool en Wynberg Boys High wat plaasgevind het. Tussendeur die rugby kon besoekers ook weer die uitstallings en demonstrasies besoek. Grondverskuiwingsdemonstrasies is veral goed bygewoon.  SAPWA het ook ‘n konferensie vir plaaswerkers by die ekspo aangebied.

 

Viljee Loubser, voorsitter van die Agri Cape Week het sy tevredenheid na afloop van die ekspo uitgespreek: "Die vennootskap tussen Agri Mega en die Hoër Landbouskool Boland het die potensiaal om hierdie ekspo na groot hoogtes te neem," het Loubser gesê.

 

Orton King, Groep Uitvoerende Direkteur van Agri Mega het gesê dat landbou insetverskaffers nodig het om in tye van ekonomiese resessie meer aggressiewe bemarkingstrategieë te implementeer, want produsente se wil om besigheid te doen moet in sulke tye gestimuleer word. "In ekonomiese resessies word verskaffers aan die landbou beloon vir hul vasbyt en betrokkenheid by geleenthede soos die Agri Cape Week. Ons het dit vanjaar beleef!" het King gesê. "Wat produsente betref, bied geleenthede soos hierdie ‘n platform vir positiewe waardetoevoeging en stimulering van innoverende strategieë wat broodnodig is vir oorlewing in ekonomiese lam tye" het King verder gesê.