Erkenning aan man van Agri Mega

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 8 Desember 2008

 

Navrae: Leensie Streicher

Die welbekende bemagtigingsorganisasie wat ontwikkeling in die landbou in Suid-Afrika fasiliteer, Rudnet, het by ‘n glansgeleentheid in Wellington vier spesiale toekennings gemaak aan persone wie besonderse bydraes in die landbou-ontwikkelingsveld gemaak het en nog steeds maak. Mnr. Orton King die Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega het ‘n oorkonde ontvang vir sy bydrae om ekonomiese transformasie en sosio-ekonomiese ontwikkeling in die landbou te bevorder. Die oorkonde is deur prof. Kotze, Voorsitter van die Raad van Rudnet aangebied en deur mnr. Jerome Topley van die Kantoor van die Minister van Landbou, Wes-Kaap oorhandig.

Orton King het in ‘n gesprek opgemerk dat hy die oorkonde en erkenning hoog op prys stel, maar meen dat hy dit te vroeg ontvang het aangesien daar nog soveel werk op hierdie terreine in die landbou is, wat gedoen moet word, maar dat die toekenning vir hom opnuut ‘n inspirasie sal wees om optimaal betrokke te raak. “Ek dank graag die Raad van Rudnet vir die gebaar, maar in besonder my Hemelse Vader vir die krag en vermoë, asook vir my gesin wie dikwels moet opoffer as gevolg van my afwesigheid.”

“Ek gee ook graag erkenning aan Agri Mega as organisasie, wat die geleentheid skep om hierdie bydraes aan die landbou te lewer” het King verder gesê.

Tydens hierdie glansgeleentheid het Rudnet ook erkenning gegee aan plase wat besonderse insette lewer om die lewensomstandighede van plaaswerkers te verbeter. ‘n Toekenning is ook gemaak aan die plaaswerker wie vrywillig in die besonder bydraes lewer en insette maak om die lewensomstandighede van plaaswerkers in sy/haar direkte omgewing positief te beïnvloed. Mnr. Orton King van Agri Mega het bevestig, dat dit wat hy by die geleentheid beleef het, vir hom hoop gee vir landbou en landelike ontwikkeling in Suid-Afrika. “Dink plaaswerkers op plase weg en jy dink kos op mense se tafels weg”, het King opgemerk. “Dit is daarom belangrik dat ‘n aantreklike werksomgewing, billike vergoeding en loopbaangeleenthede vir plaaswerkers geskep moet word,” het King verder gesê.

Foto: Mnr. Jerome Topley oorhandig die oorkonde aan mnr. Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega.