Kweekhuisproduksie Herontwerp - IASA Werkwinkel Terugvoer

Deur Doug Momberg
Afrika is die enigste vasteland wat die afgelope 25 jaar armer geword het en is die toekoms van voedselsekerheid gevolglik in ernstige gedrang. Een manier om die algehele stand van die wêreld, veral Suid Afrika, se voedselsekerheid te verseker, is deur middel van intensiewe boerdery. Intensive Agriculture South Africa (IASA) het op 6 Mei 2011 'n werkwinkel tydens Bien Donné Agri Cape Week 2011 aangebied en het daarin geslaag om belangrike en relevante inligting ten opsigte van die oprigting en instandhouding van kweekhuisproduksie te versprei.

Wanneer dit by grondloseproduksie kom, word cocopeat (kokosneutvrughulsel) hoogs aanbeveel. Die spesifieke formate wat voorkom moet deur produsente evalueer word, sowel 'n paar belangrike aspekte oorweeg word. Die regte kombinasie moet gekies word volgens hul gewas, klimaat, en besproeiingstelsel. Dié groeimedium moet eers deeglik voorberei word om Kalsium (Ca2+) en Magnesium (Mg2+) in te werk en Kalium (K+ ) en Natrium (Na+) te verwyder. Hierdie veroorsaak dat die gewas optimale voeding uit die stelsel kan verkry. 'n Mengsel van 'n kilogram CaNO3 (Kalsium Nitraat) en 300g MgSO4 (Magnesium Sulfaat) per 1000 liter water, hidreer die cocopeat vir 24 uur en word met skoon water uitgespoel. Die medium word dan as gereed vir voedingslading en planting beskou.

As dit by besproeiing kom is dit belangrik om 'n paar goed in gedagte te hou. Die spesifieke besproeiingskedule moet die water en voedingsbehoeftes van die plante voorsien. Water en lig loop ook hand aan hand weens die feit dat plante water gedurende fotosintese gebruik wat uiteraard gekoppel is aan die hoeveelheid lig beskikbaar. Dit word dus ook aangeraai om besproeiing te reguleer volgens beskikbare sonlig - met ander woorde, plante kry die meeste son op die middaguur en gebruik dus ook terselfdertyd die meeste water. Die gehalte van die water wat vir die plante beskikbaar gestel word moet gedurig gemonitor en getoets word. Dit word aangeraai om watermonsters net voor somer en winter te neem om spesifieke seisonaleskedules te bepaal. Die hoeveelheid voedingstowwe, insluitend minerale, het ook 'n groot impak op die misstofformulasie wat gebruik word en dui dus ook die belangrikheid van hierdie tipe ontledings aan.

Daar is tans ook 'n tendens aan die groei wat biologiese metodes van pesbeheer gebruik eerder as tradisionele chemiese bespuitingmetodes. Die genetiese ontwikkeling van roofsugtige insekte om plae te beheer, word tans op die mark beskikbaargestel, wat veroorsaak dat minder, indien enige, bespuiting genoodsaak word.

Talle produsente is besig om die skuif na intensiewe produksie en grondlose groeimediums vir hul gewasse te maak. Die ekonomiese potensiaal van so 'n skuif is eindeloos en uitgebreide verskaffing aan die plaaslike, sowel buitelandse markte gaan net verder toeneem soos wat meer mense meer kos nodig het.