Mega ekspo's vir fokus op omvattende Wes-Kaap-produksie
Die Agri Mega Groep is sinoniem met uitstekende ekspo-geleenthede in die landbou en bied in 2011 drie geleenthede aan wat rolspelers in die landbou nie mag misloop nie. Gesamentlik is die ekspo's uniek en fokus dit op programme wat kommersialiteit in landbou bevorder.
Mega Steak Week 2011 - Van Hoef tot Bord
Samesprekings en beplanning tussen Agri Mega, Boland Landbouskool, die Rooivleis Produsente-organisasie van die Wes-Kaap en verskeie beestelersverenigings, is die grondslag vir die eerste Mega Steak Week wat vanaf 14 tot 16 April 2011 by die Skool plaasvind. Boland Landbouskool was tevore die tuiste van Agri Cape Week en met laasgenoemde se verhuising na Bien Donné is die skool nou die tuiste van Mega Steak Week. Daar is op dié ekspo besluit om die waarde van die rooivleisbedryf, veral in die Wes-Kaap, toe te lig. Mega Steak Week gaan op beeste, volstruise, wild, rooivleisgroothandel en die abattoirbedryf fokus. Die tema van Mega Steak Week 2011, is "Van Hoef Tot Bord". Die program spog met top kunstenaars, vleis- en steakverwante kompetisies, 'n plaaswerf vir kinders en dié wat weer die kindgevoel wil ervaar, opleiding, werkswinkels, vleisverwerkingsdemonstrasies, vee-aktiwiteite, veilings, veeskoue, skolevasvrae en -programme, 'n biertuin, braaikompetisies, potjiekosse en Steak, Steak en nogmaals Steak.
Bien Donné Agri Cape Week 2011 - Agri Vooruitskou 2020
Bien Donné Agri Cape Week is vanjaar 'n samevoeging van twee tradisionele ekspo's: Bien Donné van LNR en Agri Cape Week van Agri Mega. Weens 'n ooreenkoms tussen die partye vind die saamgevoegde ekspo vanaf 4 - 6 Mei 2011 by die Bien Donné uitstalperseel in Simondium, buite Franschhoek, plaas. Die tema van die ekspo, wat hoofsaaklik op sagetvrugte-, wyn- en groentebedrywe, asook alternatiewe vrugtebedrywe fokus, is Agri Vooruitskou 2020. Die ekspo fokus in besonder op produsente, plaaswerkers, verbruikers en die jeug-in-landbou. Vername fokusse in 2011 is plaaswerkers, en 'n jeugleierskonferensie. Die ekspo geniet steun van uiteenlopende belangegroepe: produsente, werkers, georganiseerde landboustrukture, sektorale kommoditeitsorganisasies, landbou produk- en diensteverskaffers, borge, donateurs en die publiek.
Agri Mega Week 2011 - Landbou vir die Mense
Agri Mega se vlagskip ekspo, Agri Mega Week, vind vanaf 14 - 16 September 2011 in Bredasdorp plaas. Die hooftema is "Landbou vir die Mense". Die ekspo fokus op die wintergraan-, skaap-, wol- en suiwelbedrywe. Agritoerisme as 'n landbouproduk en die bewaring van biodiversiteite in landbougebiede, vir omgewingsbevordering en toerisme, kom ook onder die loep. Die ekspo het besonderse waarde vir produsente, plaaswerkers, verbruikers en die jeug-in-landbou. 'n Groot komponent van dié ekspo is onderdak in die BKB- veesentrum van Mega Park. Agri Mega Week huisves vanjaar ook die gesogte Merino Classics en dit beloof om 'n grootse geleentheid te wees. Die ekspo spog jaarliks met meer as 350 uitstallers, duisende produsente, afvaardigings van tradisionele en nuwe georganiseerde landbou-organisasies, kommoditeitsorganisasies, regeringsafvaardigings, internasionale produsente en sektorale produk- en diensorganisasies. Die ekspo, wat dikwels as die NAMPO van die Wes-Kaap beskryf word, is die grootste van sy soort in die Suidelike Provinsies van Suid-Afrika.
Vir meer inligting of uitstallers en belangstellendes, wat by die ekspo's betrokke wil raak kan Reinette Basson by 021 863 0701 of 021 863 0397 skakel.


















