Nedbank betrokke by landelike beveiliging
Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Promo kantoor in Bredasdorp op 15 Mei 2008.
Navrae: Leensie Streicher
Met plaasaanvalle en geweldsmisdaad in landelike gebiede wat, selfs in die Wes-Kaap, al hoe meer ‘n realiteit raak poog die SAPD om met die sektor polisiëring strategie plase te beveilig en onder andere vinniger reaksie te bevorder.
As deel van hierdie strategie word plase in verskillende streke besoek en elke plaas te nommer sodat al die plase in die polisiëringsgebied ‘n unieke nommer het. Die rasionaal agter hierdie stap is om dit vir polisielede makliker te maak om plase te identifiseer in gevalle waar hulle ontbied word.
Ook in die Overberg is hierdie proses in volle swang en het Agri Promo onlangs ‘n borgskap van Nedbank gefasiliteer om die genommerde borde wat by elke plaas opgesit moet word te borg. Nedbank het met ‘n borgskap van R 6000-00 die uithangborde vir Napier se omliggende plase verskaf en in samewerking met Agri Promo is duursame, duidelik genommerde borde verkry.
Insp. Mike Eksteen van die SAPD Napier is bemoei met die landelike beveiliging van omliggende plase van dié dorp en sê dat hierdie inisiatief nie net tot die veiligheid van plaasbewoners sal bydra in terme van misdaad nie, maar dat hulle ook beplan om die nooddienste van inligting te verskaf om ingeval van nood maklik die betrokke plase te identifiseer en so vinniger op te tree.
Mnr Hannes Victor, besigheidsbestuurder van Nedbank Besigheidsbank op Bredasdorp, sê dat Nedbank hier is om die gemeenskap te ondersteun en dat hierdie nie net nog ‘n projek is nie, maar ‘n ware geleentheid om waarde toe te voeg tot veral die landbougemeenskap wat ‘n belangrike teikenmark vir hulle is.
Tydens die oorhandiging van die borgskap en uithangborde het Victor gesê dat die veiligheid van die landbougemeenskap hulle na aan die hart lê en dat hulle graag betrokke raak by hierdie inisiatief.
Hanno Maritz, bestuurder van Agri Promo, het gesê dit is goed om te sien dat besighede betrokke is by die gemeenskap: “Dit is belangrik dat besighede ook bydra in projekte soos hierdie en die nodige ondersteuning aan instansies soos die SAPD bied om hul belangrike taak te vergemaklik.”
Volgens Insp. Eksteen is plaaseienaars en produsente se reaksie op die inisiatief positief, maar sê dat goeie verhoudings met boere baie belangrik is sukses. Hy sê egter dat hy goeie samewerking ontvang en spreek die hoop uit dat die projek ook met sukses in ander streke geïmplementeer sal word.


















