Overberg DLV & Agri Mega hou "bosberaad"
Nuusvrystelling uitgereik deur die kantoor van die Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega en die Overberg DLV op 12 September 2007.
Die onderskeie besture van die Overberg Distriks Landbouvereniging (DLV) en Agri Mega het op 11 September ‘n “bosberaad” gehou met betrekking tot die posisionering en toekoms strategieë van die twee entiteite, asook die werksooreenkoms wat tussen die twee organisasies bestaan.
Die Overberg DLV wat die hoogste gesagstruktuur vir georganiseerde landbou in die Overberg is, het vroeër vanjaar die Overbergse Landbouberaad aangebied waartydens alle rolspelers in primêre en sekondêre landbou in die Overberg betrek is. Voortspruitend uit hierdie beraad het ‘n aantal aksies en projekte reeds voortgespruit wat ‘n bydrae lewer tot transformasie en volhoubaarheid van landbou in die Overberg. Die afgelope “bosberaad” was ‘n verdere toevoeging tot die daarstel van ‘n werkbare strategie om volhoubare landbou aktiwiteite in die Overberg te verseker.
Tydens die beraad is beplanning in plek geplaas vir die implementering van ‘n Overberg Landbou Forum waarin alle belangegroepe en hul verteenwoordigende organisasies die geleentheid sal kry om insette te lewer om landbou in die Overberg gekoördineerd te ondersteun en te lei en sodoende te help verseker dat volhoubaarheid nagestreef word. Verder is die werksooreenkoms tussen die Overberg DLV en Agri Mega as artikel 21 Maatskappy deeglik bespreek en is daar opnuut besluit dat Agri Mega as entiteit en bate van die georganiseerde landbou in die Overberg, die regte voertuig is om as bedryfsarm van die Overberg DLV te funksioneer. Die toekomstige verhouding tussen die Overberg DLV en Agri Mega sal daarop berus dat die Overberg DLV die beleidmakende entiteit van georganiseerde landbou in die Overberg sal wees, terwyl Agri Mega die uitvoerende funksies sal behartig.
Daar is opnuut weer kennis geneem van die verwagtinge wat oor landbou in die Overberg bestaan en dat instellings soos die Departemente van Landbou, Grondsake, ensovoorts asook die Overberg Distriksmunisipaliteit positief staan teenoor die pro-aktiewe optrede van die Overberg DLV en Agri Mega in hierdie streek ter einde transformasie en volhoubaarheid in landbou te bevorder. Konsensus is tydens die beraad bekom dat daar daadwerklike pogings aangewend sal word om grondhervorming, swart ekonomiese bemagtiging en winsgewende landbou in die Overberg te laat slaag. In hierdie pogings sal die Overberg DLV as gesagstruktuur, met Agri Mega as sy bedryfsarm, kardinale rolle speel.
Na afloop van die beraad het mnr. Willie Smal, Voorsitter van die Overberg DLV sy tevredenheid met dit wat tydens die beraad bereik is uitgespreek en sy hoop uitgespreek dat georganiseerde landbou in die Overberg deur sy eie landbouverenigings, asook ander rolspelers in landbou sal inkoop op die beplanning, strategie en prosesse om werkbare oplossings te vind en vooruitgang te verseker. Die Voorsitter van Agri Mega se Direksie, mnr. Niel Giliomee het op sy beurt bevestig dat Agri Mega as Maatskappy sy ontstaan uit die georganiseerde landbou in die Overberg vir landbou gekry het en dat hierdie organisasie toegewyd staan ten einde die uitvoerende meganisme van georganiseerde landbou in die Overberg te wees.
Die onderskeie besture van die Overberg DLV en Agri Mega sal nou aksieplanne implementeer ten einde gestalte te gee aan die bereiking van doelwitte. Mnr. Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van onderskeidelik die Overberg DLV en Agri Mega bevestig dat hy en sy span gerat is om op ‘n professionele wyse en deur middel van ‘n doeltreffende bedryfspan uiting te gee aan die behoeftes van beide organisasies en dat daar ‘n passie bestaan om die Overberg ‘n modelstreek vir landbou in Suid-Afrika te maak.


















