Overberg Landbou Forum gestig

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor op 10 Maart 2008

 

 Navrae: Leensie Streicher

 

Lede van die Uitvoerende Komitee saam met ander afgevaardigdes by die stigtingsvergadering. Van links na regs: Marius Paulse, Jeff Helm, Orton King, dr Mohammed Karaan, Rose Horne, Daniel Giliomee, Joyene Isaacs en Dirkie Uys.

Foto: Leensie Streicher.

 

 

Verteenwoordigers van verskillende belangegroepe in georganiseerde landbou in die Overberg het op Vrydag 7 Maart byeengekom vir die stigting van die Overberg Landbou Forum. Hierdie Forum is die gevolg van die uitkomstes van die Overberg Landouberaad wat in Maart 2007 in Caledon gehou is.  Die Forum is gestig binne die breë raamwerk van georganiseerde landbou en het die volgende doelstellings voor oë:

 

  • Om ‘n strategie te ontwikkel ten opsigte van grondbesit en doel gedrewe aan die regering se doelwitte te beantwoord.
  • Om ‘n SEB strategie te ontwikkel om mense te bemagtig en by te dra tot ontwikkeling.
  • Om die swak politieke status en profiel van landbou te verbeter vir ‘n sterker onderhandelingsbasis.
  • Om ekonomiese volhoubaarheid te bevorder.

 

Mnr. Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega het afgevaardigdes van verskeie groeperings in landbou, insluitend die Departemente van Landbou en Grondsake, kommersiële en ontluikende produsente en ander rolspelers, gelei in ‘n gesprek oor die behoefte van ‘n landbouforum in die Overberg. Hy het gesê dat daar nie meer van grondhervorming en SEB as ‘n probleem gepraat behoort te word nie, maar dat dit moet deel vorm van die visie van landbou. Hy het gewaarsku dat die ware leiers minder sigbaar raak, alhoewel hulle dit nie meer kan bekostig om weg te kruip en ontrekkingssimptome te hê nie.

 

Verskeie afgevaardigdes het toegetree tot die gesprek en daar is besluit dat die Forum ‘n gespreksgeleentheid moet wees vir die verskillende groeperings om te kommunikeer wat hulle doen. Dit moet ‘n clearing house wees waar belangegroepe reguit en eerlik met mekaar kan praat en dat daar so daadwerklik oplossings gevind kan word vir die uitdagings wat voor die deur van landbou lê.

 

Dr. Mohammed Karaan, ondervoorsitter van die Landbou bemarkingsraad en dosent in Landbou Ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, het afgevaardigdes toegespreek. Met sy tema, “Droom van ‘n toekoms” het hy gesê dat “mense wat die toekoms begeer, ook bereid moet wees om dit te deel.”

 

Die afgevaardigdes het daarna besluit dat die Forum sal bestaan uit die onderskeie groeperings wat reeds betrokke is sowel as enige ander belangegroepe wat ‘n belang by landbou in die Overberg het. ‘n Uitvoerende Komitee is ook verkies wat sal help met die operasionele reëlings van die Forum. Hierdie Komitee is: Marius Paulse (Departement van Landbou), Rose Horne (Departement van Grondsake), Jeff Helm (ontluikende produsente) en Dirkie Uys (kommersiële produsente en Overberg DLV). Agri Mega sal die administrasie van die Forum bedryf.

 

Me. Joyene Isaacs, Departementshoof van Wes-Kaap Landbou het die stigtingsvergadering afgesluit en gesê dat rolspelers in landbou nie moet vergeet waarom hulle hier is nie en dat hulle die mense is wat kos op die tafels van die land se mense sit. Sy het belangegroepe sterkte toegewens vir die toekoms van die forum en dit geprys as ‘n baie goeie inisiatief en dat sy uitsien na die uitkomste daarvan.