Overberg: Plaaswerker van die jaar
Nuusvrystelling uitgereik deur die kantoor van die Hoof Uitvoerende Beampte van
Agri Mega
deur Nicolene Beeslaar van Sanlam.
Die
Overberg se streekwenners in die jaarlikse
Plaaswerker-van-die-Jaarkompetisie is pas, Woensdag 29 Augustus op ‘n
geleentheid op Bredasdorp aangewys. Altesame 15 plaaswerkers het in die
vyf kategorieë meegeding.
Johannes
Jansen, wat die kategorie vir junior bestuur gewen het, is as die
streekwenner aangewys. Die ander wenners is Hendrik Snyders (algemene
werker), Liza Botha (administratiewe personeel), Dirk Cupido (tegniese
operateur), Johannes Jansen (besproeiingsspesialis).
Volgens die
beoordelaars moes die deelnemers aan streng kriteria voldoen om aan die
kompetisie deel te neem. ‘n Skriftelike nominasie is vir al die
deelnemers ingedien waarna daar met elkeen ‘n onderhoud gevoer is. Die
onderhoude is deur ‘n span kundige en objektiewe beoordelaars gehanteer
en het verskeie landbouverwante vrae aan die deelnemers behels.
Elkeen
van die wenners het ‘n kontantbedrag van R1250-00 asook ‘n trofee
ontvang. Prysgeld vir die tweede en derde plekke was onderskeidelik
R750-00 en R500-00.
Die beoordelaars was dit eens dat die
kompetisie uiters mededingend was en dat die kandidate deur die bank
goed voorbereid was. Die entoesiastiese deelname is ‘n bewys dat die
kompetisie beslis ‘n groot rol speel om plaaswerkers aan te moedig om
hul vernuf en kennis uit te brei.
Sanlam en die Departement van
Landbou was die mede-borge van die kompetisie. Volgens Erna Wetzel,
bemarkingsbestuurder van Sanlam Cobalt, het die
Plaaswerker-van-die-Jaarkompetisie ses jaar gelede in die Hexvallei
begin waarna dit na verskeie streke in die Wes-Kaap uitgebrei is.
Tans
neem plaaswerkers uit die Koue Bokkeveld, die Breërivier,
Bergrivier, Piket Bo-Berg, die Hexvallei en die Overberg aan die
kompetisie deel.
Die onderskeie streekwenners kom in Oktober
teen mekaar te staan wanneer die provinsiale wenners aangekondig sal
word. Prysgeld van R3000-00 wag op die algehele wenner.


















