Seminaar vir die kreatiewes

Nuusvrystelling uitgereik deur die Kantoor van Agri Mega in Bredasdorp op

5 Augustus 2008

 

Navrae: Leensie Streicher

 

Agri Mega bied in samewerking met die SABS en Omnia op 18 September 2008 ‘n seminaar aan oor kreatiwiteit en nuwe produkontwikkeling. Hierdie seminaar vind plaas tydens die jaarlikse Agri Megaweek wat vanaf 17 tot 20 September 2008 in Bredasdorp aangebied word. Die seminaar vind plaas in die FNB ouditorium op Agri Mega Park en beloof om uitstekende inligting deur te gee en waarde toe te voeg vir persone wat graag ontwerp en ontwikkel.

 

Die inhoud van seminaar sluit onder andere die volgende aspekte in:

-          Slaggate in die ontwikkeling van ‘n nuwe produk ontwerp;

-          Die beskerming van intellektuele eiendom;

-          Beskikbare finansiële insentiewe en hoe om toegang daartoe te verkry;

-          Beskikbare tegniese ondersteuning en hoe om dit te bekom;

-          Die rol van die industriële ontwerper;

-          Individuele strategieë en entrepreneurskap.

 

Uitstekende sprekers tree by hierdie geleentheid op waaronder die welbekende entrepreneur Willie van Straaten, die stigter van Verimark en strateeg agter die meeste Verimark produkte. Die seminaar kan slegs ‘n beperkte aantal persone akkommodeer en daarom moet belangstellendes vroegtydig reageer. Dit word gratis aangebied en slegs toegangsgelde by Agri Mega Park van R45 per persoon word gevra. Die seminaar sluit in ‘n middagete wat ook gratis bedien word. Belangstellendes kan skakel met Cornea Geldenhuys by 028 424 2890 om hul plek te bespreek.