Vleiseters van formaat sien uit na nuwe Ekspo

Deur Esther Möller, Agri Promo
Ons word jaarliks onthaal met feeste, ekspo's en skoue van elke denkbare produk en lekkerny bekend aan die Suid-Afrikaanse verbruiker. Van kaas, wyn, oesters, kreef, wildsvleis en biltong, olywe en wie weet wat nog alles op die spyskaart - vir ieder en elkeen se smaakpalet is daar iets op die jaarlikse kalender. Maar nou kan die fynproewers nader staan - min ander nasies hou by Suid-Afrika kersvas as dit by ons rooivleis kom. Hier is ons kenners van formaat. Wat is lekkerder as 'n murgsagte sappige kruisskyf, perfek voorberei en gekomplimenteer met net die nodigste geurmiddels? Hiermee saam 'n volronde glasie rooiwyn, en jy het perfeksie. Watertand-lekkerte op sy beste!

Maar hoeveel van ons wonder vir een oomblik waar ons vleis vandaan kom? Hoeveel moeite, navorsing en kundigheid word belê in daardie sappige stukkie steak op my bord? Hoeveel verbruikers ken die verskil tussen vleisbeeste en suiwelrasse? Watter prosesse ondergaan daardie stukkie rooivleis alles voordat dit op my bord beland? Met die huidige debakel rondom die byvoeging van pekelwater by sommige hoenderprodukte, is dit meer en meer die verbruiker se verantwoordelikheid om kennis te neem van die totale produksieprosesse waaraan sy voedsel onderwerp word. Onkunde en traak-my-nie-agtigheid kan die verbruiker op die langer termyn duur te staan kom.

Agri Mega, as aanbieder van verskeie prominente landbou-ekspo's, benut hier sy kundigheid en statuur in die landboubedryf om gestalte te gee aan 'n splinternuwe ekspo. Samesprekings en beplanning tussen Agri Mega, die Rooivleis Produsente-organisasie (RPO) van die Wes-Kaap en verskeie beestelersverenigings vorm die grondslag hiervan. Met die aanbeiding van hierdie Ekspo, gefokus op die rooivleisbedryf, die Mega Steak Week, wat plaasvind vanaf 14 tot 16 April 2011 by Hoër Landbouskool Boland, Agter-Paarl, sal die verbruiker, produsent en verwerker saam geleentheid gebied word om skouer te skuur. Met die unieke tema 'Van Hoef tot Bord' sal die volledige produksiesiklus van ons gesogte gereg behoorlik toegelig word.Nie net sal dit van onskatbare waarde wees vir elkeen betrokke in die rooivleisbedryf, met die aanbieding van verskeie opleidingsessies, werkwinkels, vleisverwerkingsdemonstrasies, vee-aktiwiteite, veeskoue, skolevasvrae en -programme nie, maar sal dit ook sorg vir vermaak en jolyt uit die boonste rakke! Top-kunstenaars en musiek, heerlike potjiekosse, rugby en braaivleis, steak-eet kompetisies, biertuin en spog-rooiwyne wag op ons besoekers. Stalletjies om van te kus en te keur sal beskikbaar wees, nie net om te snuffel en unieke handgemaakte produkte uit te soek nie, maar ook vir elkeen direk betrokke in die rooivleisbedryf, met kundige uitstallings deur verskaffers en diensleweraars in die bedryf. Om alles sappig af te rond, sal Steak, Steak en nogmaals Steak deel uitmaak van hierdie stampvol program.

Vir meer navrae en uitstalgeleentheid kontak gerus vir Reinette Basson by 021 863 0701 of eventsadmin@agrimega.co.za. Vir bemarkingsgeleentheid in die Amptelike Ekspo-publikasie en verskaffing van promosie-materiaal tydens die Ekspo, kontak Esther Möller by 028 424 1716 of 072 705 9150 of stuur 'n e-pos na marketing@agripromo.co.za