Workshops place focus on Agri BEE

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 3  Maart 2009.

 

Navrae: Leensie Streicher

 

Werkswinkels plaas fokus op Agri SEB

 

Die Moorreesburg-streek is die volgende gebied wat die geleentheid het om werkswinkels rakende Agri SEB by te woon wanneer dié geleentheid op 12 Maart in die Jan Basson Sentrum in Moorreesburg aangebied word. Dié werkswinkel word deur die Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme aangebied in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

 

Op 24 Februarie is hierdie werkswinkel met groot sukses in Bredasdorp aangebied waar insette van twee plaaslike SEB projekte goeie waarde tot die program toegevoeg het. Die Agri Dwala-projek en die Elim melkery-projek is as gevallestudies vir bemagtigingsprojekte bespreek met insette van begunstigdes en mentors.

 

Mnr. Trevor Abrahams, uitvoerprodusent en ondervoorsitter van USAAA het die werkswinkel in Bredasdorp bygewoon en gemeld dat die deurdra van hierdie tipe inligting tot op grondvlak noodsaaklik is. “Dis verál goed om kennis te neem van die suksesse en mislukkings op grondvlak en sodoende te verseker dat dieselfde foute nie gemaak word nie,” het Abrahams gesê.

 

Die program vir die werkswinkel in Moorreesburg sluit onder meer die volgende sessies in:

-    Bespreking van aansoek prosedures vir toegang tot Grondsake fondse

-    Die Departement van Landbou se bystand aan opkomende produsente

-    Besprekings van generiese kodes vir goeie praktyke en Agri SEB handveste

 

Ter afsluiting sal ‘n amptenaar van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme ‘n samevatting van die dag se besprekings gee. Middagete en verversings tussen sessies sal ook voorsien word.

 

Die werkswinkel poog dus om veral produsente en ook ander rolspelers in die landbou in te lig oor die toekoms van Agri SEB in die Wes-Kaap en ook om op grondvlak, oplossings te bied om Agri SEB suksesvol toe te pas. Plaaswerkers word ook spesifiek genooi om eerstehandse inligting oor Agri SEB te bekom. Daar sal ook vir die Boland-streek ‘n werkswinkel aangebied word in April, tydens die Agri Cape Week wat vanaf 16 – 18 April 2009 sal plaasvind. Dié werkswinkel sal by die Hoër Landbouskool Boland, wat ook die Agri Cape Week huisves, plaasvind. Vir meer inligting en besprekings rakende die Moorreesburg en Paarl werkswinkels, kan Mega Events gekontak word by 021 863 0397.

 

Foto’s: ‘n Begunstigde van die Agri Dwala-projek deel haar ervarings oor dié Agri SEB projek tydens die werkswinkel in Bredasdorp.  Foto: Leensie Streicher