10 Redes om Agri Megaweek 2010 te besoek

Landbou in die Overberg en Wes-Kaap skud reeds weer vere reg vir Agri Megaweek 2010 wat vanjaar vanaf 15 – 17 September op Agri Mega Park in Bredasdorp aangebied word. Die tema vir vanjaar se ekspo is Voedselsekerheid in Aksie. Programme en aktiwiteite wat aangebied word sal sterk fokus op landbou as die voedselbron van die nasie.

Produsente, kleinboere, landbou-arbeid en ander landbourolspelers, sowel as die algemene publiek, mag eenvoudig nie hierdie geleentheid misloop nie. Die redes hiervoor is soos volg:

 
1. Laer toegangsfooie

Met laer toegangsfooie (R25-00 vir volwassenes, R10-00 vir kinders 12 jaar en jonger) is Agri Mega Park beslis dié plek om te wees. Die onlangse uitbreiding van infrastruktuur op die terrein, maak dié geleentheid ook meer toeganklik en versterk ongetwyfeld Overberg-landbou se plek as 'n hoofstroom Agri-rolspeler.

 
2. Landbou indaba en inligting

Verskeie werkwinkels word aangebied, waaronder 'n Graaninligtingsdag (Donderdag 16 September), Suiwelwerkwinkel (Woensdag 15 September), Kanola Inligtingsdag (Vrydag 17 September) en 'n Inligtingsdag vir Opkomende Landbou (Donderdag 16 September).

  1. 3. Damesbederf


'n Omvattende Damesprogram, insluitend 'n middagtee vir jong ma's (Woensdag 15 September), 'n Damesmiddagtee (Donderdag 16 September) en 'n spesiale program op 17 September oor 'n meer Holistiese benadering tot Gesondheid.  Verder sal daar ook tydens Agri Megaweek 'n spesiale ontwikkelingsprogram vir dames aangebied word.

4. Demonstrasies en Proewe

Die Agri Megaweek is na jare steeds bekend vir daaglikse demonstrasies van nuwe implemente en toerusting. Vanjaar is geen uitsondering nie, en kan besoekers uitsien na 'n voorskou van verskeie groot verskaffers se nuutste tegnologie. Produsente sal ook vanjaar die geleentheid hê om proewe van kanola-kultivars te besigtig en so 'n ingeligte besluit oor dié toenemend gewilde gewas te maak.

5. Landbou-arbeid aktiwiteite

Op Woensdag 15 September word die Overberg se Plaaswerker van die Jaar-kompetisie tydens die Agri Megaweek aangebied en kan plaaswerkers wat vir hierdie kompetisie ingeskryf het, uitsien na 'n spog-geleentheid, waar eer en erkenning vir harde werk ruimskoots uitgedeel word. Landbou-arbeid kan ook uitsien na 'n Ontwikkelingsprogram op Vrydag 17 September waar plaaswerkers verskeie persele op die Agri Megaweek-terrein gaan besoek en kort praktiese lesings van kundiges kan bywoon.

6. Uitstallings

Met die nuwe BKB Sentrum, is uitstallings vanjaar 'n groot trekpleister, aangesien besoekers die honderde stalletjies in die gerief van 'n nuwe perseel binnenshuis kan besigtig. Interaktiewe uitstallings met hope inligting, innovasie en interessanthede word verwag van 'n wye verskeidenheid van verskaffers.

7. Pret en vermaak vir die hele gesin

Of dit nou skaapskeerdemonstrasies, 4 x 4 vertonings, 'n skaaptelkompetisie, die gewilde Koeiloop of sommer net 'n heerlike uitstappie is, die Agri Megaweek bied hope pret en vermaak vir die hele gesin! Bring gerus ook die kleinspan om die Plaaswerf te besoek en kennis te maak met die oulike plaasdiere.

8. Bedryfsinteraksie

Vir die ernstige landbouers is die besoek aan die verskeie bedryfsorganisasies se gastetente 'n móét! As jy 'n lid van die MPO, GSA of USAAA is, sal dié organisasies jou met eg plattelandse gasvryheid verwelkom, terwyl jy die geleentheid het om skouers te skuur met die industrieleiers van verskeie bedrywe.

9. Jeug en Skole

Die MPO bied vanjaar weer sy gewilde Skolemelkprogram aan, waar leerders van verskeie ouderdomme meer geleer word van die voedingswaarde van suiwelprodukte, maar ook in die breë -  interessante inligting en akademiese stimulasie wat poog om jong landbouers vir die toekoms te kweek. Die jaarlikse Agri Megaweek Jeugskou sal ook weer tydens vanjaar se ekspo aangebied word en is jaarliks 'n groot hoogtepunt, met goeie kwaliteit deelname en sterk kompetisie tussen leerders.

10. Skoue en ander vee-aktiwiteite

Verskeie skaapras- en suiwelskoue sal die room van die plaaslike teelkuddes ten toon stel en ook sorg vir gesonde kompetisie in die bedrywe. Kyk gerus uit vir Merino en SAVM skaapraskompetisies, die immergewilde Queen-of-the-Expo Suiwelskou, asook 'n ontwikkelingskou vir opkomende landbouers.

Vir meer inligting skakel gerus, Tel: 028 424 2890 of 021 863 0070.