Agri Cape Week 2010 op horison

Agri Cape Week, wat vanaf 15 - 17 April 2010 by Hoër Landbouskool Boland, Agter-Paarl aangebied word, fokus spesifiek op die vrugte-, wyn-, en groentebedrywe in die Wes-Kaap en beloof om weer 'n uitsoek-geleentheid te wees.

Verskeie aktiwiteite word weer vir hierdie geleentheid beplan, insluitende werkwinkels en inligtingsessies vir die onderskeie bedrywe, asook kompetisies, skole betrokkenheid en vermaak. Een van die hoogtepunte op die program wat goeie waarde sal toevoeg is 'n Agri Toerisme werkwinkel wat tydens Agri Cape Week aangebied gaan word. Die bekende Peter Myles, 'n toerisme spesialis wat tans betrokke is by 'n hele aantal gesogte projekte, sal as hoofspreker tydens die werkwinkel optree. Die werkwinkel sal spesifiek fokus op plaaseienaars wat die potensiaal van landbougerigte toerisme aktiwiteite soos self-sorgeenhede, 4 x 4- en staproetes in die Wes-Kaap wil ontgin en plaaseienaars word juis aangemoedig om bestaande hulpbronne, soos leë plaashuise, te omskep in 'n bron van inkomste.

Volgens Myles het 'n opname deur SA Toerisme onlangs bevestig dat 70% van internasionale toeriste Suid-Afrika besoek vir sy buitelewe toerisme ervarings, soos pragtige natuurskoon, wild, goeie klimaat en kulturele diversiteit. “Slegs 7% van oorsese besoekers en sowat 2% plaaslike toeriste maak egter gebruik van plaasakkommodasie wanneer hulle in Suid-Afrika toer. Indien die potensiaal ontgin word om agri toerisme in Suid-Afrika te bemark, organiseer en te stimuleer, sal dit 'n merkwaardige markgeleentheid bied.”

Nog 'n hoogtepunt op die program is 'n Nasionale Olyfkonferensie met internasionale sprekers van Italië en Spanje asook plaaslike spesialiste in die olyf-industrie, soos Carlo Costa van die LNR. Die konferensie sal oor twee dae geskied (15 - 16 April). Onderwerpe wat bespreek sal word sluit in: Die beste kultivars vir Suid-Afrika, Olyfekstraksie, 'n nadere blik op insekteplae en biologiese pesbeheer, ensovoorts.

'n Verdere fokus vir die olyf-industrie is 'n olyfverwerkingsdag in samewerking me SA Olyf Industrie Assosiasie. Die geleentheid is oop vir die publiek en 'n interessante dag word in die vooruitsig gestel met uitstallers in die olyfbedryf wat produkte/dienste bekend sal stel. Dit sal ook die Nasionale Olyfkonferensie goed aanvul en behoort olyf produsente eenvoudig nie die Agri Cape Week mis te loop nie.

'n Omvattende damesprogram, sal vir goeie vermaak en heerlike bederf vir die dames sorg. Op dié spyskaart is daar onder andere 'n Vroueoggend in samewerking met Tuis tydskrif op Donderdag 15 April 2010 met die tema: Tuindekor - ons kyk na binne en leef na buite. Mabel Steenkamp, eienaar van Die Gieter - 'n spesialiswinkel in die Paarl wat veral fokus op pragtige, praktiese tuindekor, is onder andere een van die sprekers. Steenkamp, wat ook 'n gereelde medewerker in Tuis-tydskrif se tuinmaakseksie is, sal kreatiewe tuindekor-idees met dames deel. Koste beloop R200,00 pp - en sluit 'n laat-ontbyt in. Besprekings by Elma Brand van Mega Events by 021863 0397 of events@agrimega.co.za.

Plaaswerkervroue, wat dikwels beskou word as die ruggraat van 'n plaas se sosiaal-maatskaplike bestaan, gaan ook tydens Agri Cape Week bederf word met 'n koek-en-tee geleentheid, waar daar gefokus sal word op die belangrike rol wat dié dames in hul gemeenskap speel.

Groot rugby word ook tydens die Agri Cape Week beplan waartydens privaatskool Bishops (Diocesan College) in Kaapstad, wat 'n ryk rugbygeskiedenis het, kragte sal meet teen die Hoër Landbouskool Boland.

Daar sal ook weer 'n verskeidenheid van landbougerigte uitstallings en geleenthede vir demonstrasies van landbou implemente en ander toerusting by die Agri Cape Week wees. Alle uitstallers in die vrugte-, wyn-, en groentebedrywe word genooi om vir Cornea Geldenhuys by Agri Mega se kantoor te kontak by 028424 2890 of besoek www.agrimega.co.za vir meer besonderhede. Toegang tot die Agri Cape Week is gratis vir die publiek. Vir meer inligting oor die damesprogram en ander werkwinkels, kontak gerus vir Elma Brand van Mega Events by 021863 0397 of events@agrimega.co.za.