Agri Cape Week gee hoop aan boere
Agri Cape Week 2010 was die afgelope week die tuiste van rigtinggewende diskoerse en uithaler uitstallings in die vrugte-, groente-, wingerd- en wynindustrieë. Die tema van vanjaar se Agri Cape Week is "Geleenthede vanuit onsekerhede" en het by die Hoër Landbouskool Boland, Agter Paarl plaasgevind.
Dié aktuele tema het ongetwyfeld baie emosie en ongekende waardetoevoegingsbydrae vanuit die vele diskoerse oor voedselsekerheid, alternatiewe besigheid- en produksiegeleenthede, veilige landbouomgewing met betrekking tot die grondwet, teweeggebring.
Mnr Gerrit van Rensburg, Minister van Landbou in die Wes-Kaap, het tydens die ekspo se amptelike opening gesê: "Die tyd vir boere in nou meer ryp as ooit om die geleenthede uit onsekerhede aan te gryp." Hy het verder sy Departement se volgehoue ondersteuning aan produsente onderstreep. Minister Van Rensburg het beklemtoon dat Agri Cape Week 'n groot bate is vir die landbou.
Die bekende politieke ontleder, Theo Venter, verbonde aan NWU, het aangevoer:"Daar moet nie veel aandag gegee word aan "die vrese wat deur die ekstreme randeiers soos die Malema’s en andere" aangeblaas word nie." "Die grootste gedeelte van die bevolking is magtig genoeg om die land op koers te hou", het Venter bygevoeg.
Agri Suid-Afrika se president, Johannes Möller het ook die huidige uitdagings as geleenthede bestempel terwyl die onafhanklike ekonoom Dr Roelof Botha, Sake Burger se Ekonoom van die Jaar, 'n 5% groei voorspel.
'n Vraagstuk wat baie aandag geniet het, was landelike veiligheid. Die bekende juris, Regter Dennis Davis van die Kaapse Hoërhof, het produsente die versekering gegee dat hulle deur die land se grondwet beskerm word.
Agri Cape Week 2010 is met kookwater rugby tussen Hoër Landbouskool Boland en Bishops afgesluit. 'n Stukkie geskiedenis het op die veld afgespeel toe die leerling-boere hul besoekers van die suidelike voorstede naelskraap met 15-13 geklop het. Nog 'n hoogtepunt by vanjaar se ekspo was 'n besoek deur die bekende rugbysterre Breyton Paulse, Conrad Jantjes en Egon Seconds wat ook waardevolle insette by die Plaaswerker konferensie gemaak het. Paulse, Jantjes en Seconds het egter tweede gekom toe hul kragte meet met die kampioenpampoen van ongeveer 350 kg.
Die Agri Cape Week word deur die Agri Mega Groep aangebied. Produsente (kommersieël en opkomend), plaaswerkers en landboubesighede het na afloop van Agri Cape Week dit onomwonde gestel dat hul na aanstaande jaar se ekspo uitsien.


















