Agri Mega-effektief vir landbou
Nuusvrystelling uitgereik deur die Kantoor van Agri Mega in Bredasdorp
Navrae: Leensie Streicher
Die pas afgelope algemene jaarvergadering van Agri Mega het goeie belangstelling uit geledere van sy lede-organisasies gekry deur sterk teenwoordigheid op die vergadering. By die geleentheid het Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega ‘n aanbieding gedoen om afgevaardigdes in te lig oor die visie van Agri Mega en onlangse struktuur aanpassings wat plaasgevind het om te verseker dat die organisasie effektief op die vraag na sy dienste kan beantwoord. Hierdie aanbieding is afgeskop met die volgende, naamlik “If your vision does not scare you, it’s not big enough” en “Get a Caleb spirit – do not focus on the big giants but on the big fruit”. Hierop het King se aanbieding gevolg en het dit duidelik na vore gekom dat Agri Mega raakvat om ‘n effektiewe bydrae te lewer wat landbou – veràl in die Wes-Kaap – tot voordeel strek.
Hoogtepunte uit die Agri Mega toekoms strategie is die feit dat hierdie organisasie vanjaar reeds vier groot en belangrike ekspo’s in die landbou aanbied wat daarop gemik is om interaksie tussen die verskeie rolspelers in landbou te verseker, die verbruiker sterker bewus te maak van die belangrike rol van primêre landbou, sterker landboudebat oor aktuele sake te ontketen en te verseker dat die landbouprodusent geleentheid kry om bewus te raak van jongste navorsing en tegnologiese ontwikkeling wat nodig is om landbou, wat internasionaal sterk mededinging ervaar, te bevorder. Hierdie ekspo’s is die welbekende Agri Megaweek wat in September in Bredasdorp plaasvind, asook die Overberg Vrugte en Wyn Ekspo in Oktober in Villiersdorp, die Canola WAF in Augustus in Swellendam en die Agri Cape Week in November in die Paarl by Hoër Landbouskool Boland.
Agri Mega gee ook verskeie geleentheidspublikasies vir die landbou uit, maar sy huidige vlagskip onder sy publikasies is “Die Plaaswerker / The Farmworker” wat as maandelikse glanstydskrif in die Wes-Kaap uitgegee word. Hierdie tydskrif is besig om groot gewildheid onder plaaswerkers te ontwikkel en behoort ‘n groot rol in die toekoms te speel om ‘n volhoubare kommunikasiemedium vir plaaswerkers te wees.
In sy Voorsittersverslag het Henk Aggenbach, Voorsitter van Agri Mega se Direksie daarop gewys dat hierdie organisasie sy plek volstaan om effektiewe diens aan sy lede-organisasies en landbouprodusente individueel te lewer. Benewens die normale aktiwiteite het Agri Mega ‘n prominente rol gespeel by die bevordering van transformasie in landbou in veral die Overberg gebied. In hierdie verband is daar groot vordering gemaak om interaksie tussen organisasies wat tradisioneel “wit” georganiseerde landbou en “swart” georganiseerde landbou verteenwoordig, te bevorder.
“Agri Mega is kleurblind in die verskaffing van sy dienste aan landbouprodusente, want sy fokus is op die regte plek, naamlik volhoubare landbou”, het Aggenbach gesê.
In samewerking met Departement Landbou Wes-Kaap en ander rolspelers is daar substansiële ondersteuning gegee met projekte. In hierdie verband word verwys na die Elim Melkery wat tans met groot sukses bedryf word, die Ontwikkelingskou vir ontluikende boere, die fasilitering van MIV/Vigs programme op plase om die pandemie te stuit, die deurlopende opleiding van plaaswerkers. “Ons het ook reeds ver gevorder met die daarstelling van ‘n Plaaswerker Ontwikkelingsvereniging in die Overberg wat tydens vanjaar se Agri Megaweek in Bredasdorp amptelik bekendgestel sal word. Ek bedank graag die Overberg Distriksmunisipaliteit vir hul finansiële ondersteuning in hierdie verband,“ het Aggenbach verder bevestig.
Aggenbach het sy dank uitgespreek teenoor verskeie rolspelers wat ondersteunend daartoe bydra dat Agri Mega sy doelwitte bereik. Hy het veral verwys na borge, Departement Landbou Wes-Kaap, die plaaslike owerhede in die Overberg en landboubesighede in die Wes-Kaap. Hy het ‘n beroep gedoen op insetverskaffers wat hul geld uit die landbou verdien om op ‘n groter skaal by Agri Mega se landbou inisiatiewe betrokke te raak en sodoende hul bydraes tot SEB primêr op landbou te rig.


















