Agri Mega Week 2011: Landbou vir die Mense

Die tema vir vanjaar se Agri Mega Week wat van Woensdag 14 tot Vrydag 16 September by Mega Park in Bredasdorp plaasvind is "Landbou vir die mense". So wat beteken hierdie tema in praktyk en hoe relevant is dit vir 'n ekspo gefokus op die kleingraan-, skaap & wol- en suiwelbedrywe?

Eenvoudig gestel gaan landbou vir die mense oor:

Die brood in jou kosblik
Graan en spesifiek kleingraan aangeleenthede word tydens Agri Mega Week ontbloot vir produsente sowel as verbruikers. Behalwe vir talle uitstallers van planters, stropers, balers en vele meer kan jy ook met graanbemarkers idees uitruil. Graan SA het ook hul gebruiklike gastetent waar produsente skouers kan skuur met dié kommoditeitsorganisasie se bestuur. Vir die verbruiker bring die demonstrasie van implemente die produksie van graan na die werklikheid, maar daar word ook beplan om 'n plaasmark met onder andere vars brood, konfyt, plaasbotter en als wat lekker is te koop aan te bied.

Die wolbaadjie wat jy aantrek
As kwaliteit kledingstukke vir jou ononderhandelbaar is, moet jy beslis nie die Merino Classic wat tydens Agri Mega Week gehou word, misloop nie. Hierdie is nie sommer enige skou nie, maar 'n nasionale gebeurtenis waar die toonbeeld van gehalte wolproduksie gestalte kry in 'n verskeidenheid van aktiwiteite, veld en kuddeskoue, vagkompetisies, 'n modevertoning van Merino-wol kledingstukke, potjiekoskompetisie en vele meer is op die spyskaart vir vanjaar se Merino Classic, moet dit beslis nie misloop nie.

Die melk wat jy drink
Die suiwelbedryf vorm ook, soos altyd, 'n belangrike komponent van Agri Mega Week en vanjaar is geen uitsondering nie. Die Wes-Kaapse Jersey Kampioenskap, Suid-Kaapse Ayrshire Kampioenskap en die immergewilde "Queen of the Expo" interras suiwelkampioenskappe is maar enkele van die hoogtepunte waarna besoekers kan uitsien. Vir die jonger verbruiker bied die MPO Wes-Kaap ook 'n skolemelkprogram aan. Produsente wat lede van die MPO is verkry gratis toegang en spesiale parkering om die ekspo by te woon en 'n gebruiklike suiwel werkwinkel met top-sprekers word ook vir vanjaar se Agri Mega Week beplan. Moet ook nie uit mis op hoefversorginsdemonstrasies, 'n jeugskou en besoeke aan verskeie diens en produkverskaffers in die suiwelbedryf nie.

Die vleis wat jy braai
Dis net slegs die Merino’s wat by vanjaar se Agri Mega Week gaan pronk nie, maar ander skaaprasse sal ook in skoue en uitstallings te siene wees. Verder kan besoekers onder andere na vleisbeesrasse, nadoodse ondersoeke op beeste en skape, en uitstallings van verskaffers in die klein- en grootveebedrywe kom besigtig en op hulself vereenselwig met die aktiwiteite van die rooivleis bedryf. As jy nie dink aan die vleisie wat jy oor die kole wil gooi nie, maak jou gereed om die gewilde Plaaswerf, met pragtige diere, groot en sommer nog baie klein, te kom beleef. Die pluimveebedryf bly ook nie agterweë nie en die gewilde Agri Mega Week pluimveeskou, word weer vir vanjaar beplan, so skud solank jou vere reg hiervoor.

Die werk wat jy doen
Agri Mega Week is 'n ware vertoonforum vir landbou en daar is nog vele ander aktiwiteite waarna besoekers vanjaar kan uitsien. Dit is ook 'n platform vir interaksie, en poog om produsente, plaaswerkers, opkomende boere, insetverskaffers, landboubesighede en regeringslui bymekaar te bring vir sinvolle gesprekke oor die bedryf wat soveel meer as net werk verskaf, maar ook die lewensmiddele van verbruikers. Die organiseerders van Agri Mega Week nooi graag alle belangstellendes om solank die datum van Woensdag 14 - Vrydag 16 September 2011 aan te teken en gereed te maak om "Landbou vir die mense" in aksie te ervaar.

Vir meer navrae skakel gerus vir Reinette Basson, Mega Events 021 863 0397 of eventsadmin@agrimega.co.za