Agri SEB in die Overberg

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op
17 November 2008.

 

Navrae: Leensie Streicher



Op 6 Februarie 2007 het die Parlement die finale generiese kodes vir goeie praktyk op BBSEB (Breë basis swart ekonomiese bemagtiging) goedgekeur en op 20 Maart vanjaar is dit opgevolg met die aanvaarding van die handves vir Agri SEB (Landbou handves). Swart ekonomiese bemagtiging in die landbousektor is dus ‘n gegewe en sal landbouprodusente hul huishoudings in hierdie verband in orde moet kry.

Die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme (Wes-Kaap) is tans besig met ‘n reeks werkswinkels om die totale konsep van Agri SEB vir die landbou in perspektief te plaas. Die Overberg is op 25 November 2008 aan die beurt wanneer ‘n werkswinkel deur die Departement in samewerking met Agri Mega en die EGV&V in Villiersdorp aangebied word.

Tydens hierdie werkswinkel sal top sprekers deelneem om toepaslike inligting aan landbouers in die Overberg deur te gee. Om die belangrike profiel van hierdie werkswinkel te beklemtoon bring Mnr. Cobus Dowry, Minister van Landbou in die Wes-Kaap ook ‘n besoek en sal hy in sy spreekbeurt belangrike aspekte in hierdie verband met die landbou deel.

Mnr. John van de Rheede van die Departement Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme tree op as fasiliteerder by die werkswinkel.

Mnr. Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega het ‘n beroep gedoen op landbouprodusente in die Overberg om die geleentheid te benut om hul te vereenselwig met die feite oor Agri SEB en om ook te luister na lesse wat reeds geleer is met tyd. “Dis belangrik dat landbouprodusente pro-aktief moet wees en hul status in terme van Agri SEB so gou moontlik vasstel, want dan word daar oor ‘n vertrekpunt beskik vir verdere deelname in hierdie proses,” het King gesê.

Volgens Mnr. Willie Smal, Voorsitter van die Overberg Distrikslandbouvereniging (DLV) is hierdie tipe werkswinkels belangrik om oor die nuutste inligting te beskik. “Agri SEB moet nie deur landbouprodusente as ‘n bedreiging gesien word nie, maar eerder ‘n geleentheid wat waarde tot landboubesigheid kan toevoeg,” het Smal gesê.

As gevolg van logistieke beperkings moet belangstellendes so gou moontlik reageer vir by woning van hierdie werkswinkel. Navrae kan voor of op 21 November 2008 gerig word aan Cornea Geldenhuys by 028 424 2890.

 

  Kliek hier vir die Program