Caledon Jongensklip AJV met Dr Pieter Mulder as gasspreker

By 'n onlangse Overberg Distrikslandbouvereniging (ODLV) beplanningsessie was daar 'n beroep op die bestuur gedoen om nuut, vars en "uit die boks" te dink. Dit is verblydend om te sien hoe die jong bestuur, by name Dreyer van Niekerk (voorsitter) en Willie Theunissen (sekretaris), van die Caledon Jongensklip Landbouvereniging anders as die norm gedink het, en vir Dr Pieter Mulder, Adjunk-minister van Landbou, genooi het om as hoofspreker op te tree tydens hul algemene jaarvergadering wat gehou is op die 9de Februarie, in Caledon.

Dit is ook verblydend om te sien dat 'n persoon van Dr Mulder se kaliber bereid is om met landbouprodusente op grondvlak te skakel.

Mnr Carl Opperman, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Wes-Kaap, het op dieselfde geleentheid gesê dat die landbougemeenskap dankbaar kan wees om iemand in die parlement te hê wat landbou "vorentoe kan vat".

Die onderwerp van Dr Mulder se toespraak was "Politiek vs Voedselsekuriteit". Volgens Dr Mulder het die huidige president, Mnr Zuma, 'n meer aanvaarbare houding teenoor blankes en veral Afrikaners, as wat Mnr Mbeki gehad het, en erken Zuma die Afrikaners se bydrae tot Afrika, dat hulle gehelp het om 'n infrastruktuur hier te skep en geen ander tuiste het as in Afrika nie.

Vir Mulder self was die uitnodiging om die pos as Adjunk-minister van Landbou aan te neem, volgens hom 'n moeilike besluit en het hy uiteindelik daartoe ingestem - op sekere voorwaardes. Een daarvan was dat "grondsake" en "landbou" geskei word.

Mulder het erken dat dit tans maklik is om moedeloos te raak oor die huidige landbousituasie en het 'n paar negatiewe faktore asook 'n paar positiewe faktore genoem en bespreek, en dan ook die gepaardgaande uitdagings wat daar vir die landbou voorlê.

Onder die negatiewe faktore is daar onder andere die huidige wêreld-ekonomiese resessie, die verwringing van die mark - met monopolieë en kartelvorming, die onsekerheid van eiendomsreg op grond, en dan die veiligheidsituasie op plase.

Aan die positiewe kant het hy genoem dat die resessie amper verby is en dat landbou minder geraak is as die ander bedrywe. Wat die mark betref is daarin geslaag dat produsente nie meer deur die media beskuldig word vir die hoë voedselpryse nie en dat daar beter begrip is by die publiek. Verder het die mededingingskommissie heelwat ongeruimdhede in die bedryf oopgevlek. Wat grondhervorming betref erken die regering uiteindelik dat dit heelwat mislukkings tot gevolg gehad het tot dusvêr en begin die ekonomiese werklikhede hul (die regering) se ideologiese besluite beïnvloed.

"Die belangrike rol van kommersiële produsente word uiteindelik erken en die regering het hul "konfrontasie styl" verander in 'n "samewerking styl". Hierdie klemverskuiwing is hoofsaaklik die resultaat van gesprekke tussen georganiseerde landbou en die regering".

Voedselsekuriteit is wêreldwyd 'n prioriteit en die regering besef dat kommersiële produsente deel van die oplossing behoort te wees eerder as deel van die probleem.

"Die uitdaging vir die landbou is om die belangrikheid daarvan by die regering tuis te bring. Verder moet die persepsies rondom grond verander - grond bring nie outomaties rykdom nie. Tans misluk 49% van alle grondhervorminsprojekte in die landbou. Dit kan voedselsekuriteit in gedrang bring, veral gegewe die feit dat die regering se mikpunt is om 30% landbougrond teen 2014 te hervorm. Wat voedselsekuriteit betref is die beskikbaarheid en die bekostigbaarheid van voedsel baie belangrik," het Mulder gesê. "Verder moet daar gewaak word teen stereotipering en veralgemening. Net soos wat die persepsie soms bestaan dat alle boere rassisties is, ryk is, en hul werkers onderdruk, moet die persepsie gebreek word dat alle swart boere noodwendig sal misluk. Dit is georganiseerde landbou se taak om die situasie te verander. Die laaste uitdaging vir die landbou wat Mulder aangeraak het, is internasionale subsidies en kompetisie tussen lande wat soms onregverdige mededinging tot gevolg het."

Mulder het samevattend opgemerk dat daar meer positiewe as negatiewe vooruitsigte is. "Die feit dat voedselsekuriteit so 'n hoë prioriteit is in verskeie Afrika-lande en dat daar voedsel tekorte voorspel word, moet deur kommersiële produsente benut word. Die res van Afrika beny Suid-Afrika vir sy gevestigde en suksesvolle kommersiële landboubedryf. Ons moet aanpas by die werklikhede soos wat ons al vir 350 jaar gedoen het. Laat ons die brug wees tussen Europa en Afrika", het Mulder gesê. Hy het egter ook gewaarsku dat daar 'n voorwaarde is: "Ons moet nie bedreig voel in ons eie land nie". Ter afsluiting het Dr Mulder produsente gemaan om geloof en vertroue in God te behou.