De Hoop/Ouplaas-pad Aksiekomitee vergader met Paaie Departement
Die De Hoop/Ouplaas-pad Aksiekomitee, wat hom beywer vir die opgradering van die De Hoop/Ouplaaspad, maak stadig, maar seker vordering.
Die komitee, onder leiding van Niel Neethling van die Overberg Distrikslandbouvereniging (ODLV), het op Donderdag 8 April samesprekings gevoer met Rhowheln Rhoode, Assistent Uitvoerende Bestuurder van die Wes-Kaapse Provinsiale Paaie Netwerk.
Volgens Rhoode, maak die beoogde kuspad vanaf Gansbaai tot Malgas, waarvan die De Hoop/Ouplaaspad deel vorm, wél deel uit van die Paaie Departement se 20-jaar plan vir die streek. Die moontlikheid is egter baie skraal dat die pad binne die volgende 3 jaar geteer sal word aangesien die begroting reeds gefinaliseer is. Volgens Rhoode is daar ander paaie elders in die provinsie wat hoër op die prioriteitslys is. Gelukkig het die Hemel-en-Aarde-pad, elders in die Overberg, uiteindelik die groen lig gekry en behoort bouwerk aan die pad binnekort te begin.
Die De Hoop/Ouplaas-pad is wél bestem vir hergruising binnekort, ‘n stap wat deur die aksiekomitee verwelkom word.
Dit sal egter steeds beteken dat toeriste twee keer sal dink voordat hulle die area (wat die De Hoop Natuurreservaat, ‘n Wêreld-erfenis gebied, insluit) besoek, aangesien toerbusmaatskappye en oorsese toeriste wat van gehuurde motors gebruik maak, geneig is om gruispaaie te vermy.
Volgens Sonja Chadwick, van die De Hoop Collection, wat die De Hoop Natuurreservaat in vennootskap met die regering (Cape Nature) bestuur, is toegang tot die reservaat ‘n beperkende faktor, wat verhoed dat die projek tot sy volle potensiaal ontwikkel. “Die De Hoop Reservaat is een van die Overberg se grootste bates en indien dit tot sy volle potensiaal ontwikkel word, kan dit baie werkgeleenthede skep en bydra tot die ekonomiese welvaart van die gebied”, het Chadwick gesê.
Volgens Sanet Stemmet, projekbestuurder by Kaap Agulhas Toerisme, het die getal besoekers wat ‘n naburige toerisme trekpleister, Elim, besoek, vanaf ‘n gemiddeld van 40 per maand, gestyg na 1300 per maand, nadat die pad daarheen geteer is.
Neethling het genoem bygevoeg dat die opgradering van die De Hoop pad tot voordeel van die breër gemeenskapsprojek sal strek, want benewens toerisme, landbou ook ook hierdeur bevoordeel sal word. Volgens Neethling word meer as 20 000 ton graan jaarliks op die genoemde pad vervoer vanaf plase na die naaste silo’s en spoorwegstasie op Bredasdorp.
Dominic van der Heever, die nuut-aangestelde Munisipale Bestuurder van die Overberg Distriksmunisipaliteit (ODM) het genoem dat daar binnekort ‘n Artikel 79 komitee gestig sal word, wat die ODM sal bystaan en raad gee wat betref die aanwysing van fondse uit die paaiebegroting van die streek.
Volgens Hanno Maritz van die ODLV, was dit verblydend om te sien dat die Overberg Distriksmunisipaliteit ook uiteindelik by die projek betrokke raak en die meriete daarvan besef. “Dit wil blyk asof Van der Heever meer toeganklik as sy voorganger is, en begrip het vir die belange van die gemeenskap”, het Maritz by navraag gesê. “Die Overberg se landbougemeenskap verwelkom Van der Heever se aanstelling en sien uit daarna om in die toekoms met hom saam te werk”.


















