De Hoop-pad aksiekomiteevergadering
Die aksiekomitee wat homself beywer vir die opgradering van die De Hoop/Ouplaas-pad, blyk goeie vordering te maak. Die Wes Kaapse Minister van Landbou, mnr Gerrit van Rensburg, het reeds sy volle ondersteuning vir die projek belowe na sy onlangse besoek aan die area. Verskeie belangegroepe, verteenwoordigend van die gemeenskap, is dit eens dat die opgradering van die pad nie nét die lewering en toegang tot noodsaaklike dienste sal verbeter nie, maar dat verál die streek se twee primêre ekonomiese bedrywighede, naamlik Landbou en Toerisme, daardeur bevoordeel sal word. Dit kan verder lei tot ‘n broodnodige ekonomiese inspuiting vir die area. Die opgradering van die pad sal een van die streek se belangrikste bates, die De Hoop Natuurreservaat, wat tot Wêreld Erfenisgebied verklaar is, meer toeganklik maak vir toeriste. Verder sal dit die vervoer van die groot hoeveelheid graan uit daardie area na die plaaslike silos op Bredasdorp baie vergemaklik.
Behalwe vir voorleggings aan die betrokke owerhede, is ‘n spesiale Facebook-blad geskep waarop die publiek insette kan lewer en ook die jongste nuus oor die pad kan verkry. Facebook-gebruikers wat by die Groep wil aansluit kan die woorde: “De Hoop Road Action Group / De Hoop-pad Aksie groep” in die soek-funksie op facebook intik om die bladsy te vind. Vir meer inligting, kontak Hanno Maritz by die Overberg DLV by 028 424 2890 of e-pos odlv1@agrimega.co.za.


















