Demonstrasies by Agri Mega Week 2011

Die uitdrukking van 'n prentjie wat 'n duisend woorde sê is dalk al 'n geykte een maar wanneer daardie prentjie in 'n regstreekse demonstrasie omskep word, is die waarde daarvan vir Agri Mega Week Ekspo-gangers soveel meer - dis 'n ervaring!

Demonstrasies van implemente by Agri Mega Week is al vir jare 'n hoogtepunt op die daaglikse ekspo-program wat vanjaar vanaf Woensdag 14 tot Vrydag 16 September 2011 op Mega Park in Bredasdorp plaasvind, en hierdie jaar is geen uitsondering nie.

Met 'n unieke mobiele paviljoen, toegerus met 'n puik klankstelsel, kan besoekers aan Agri Mega Week 2011 weer vanjaar die geleentheid kry om die nuutste tegnologie op die landboufront in aksie te sien. Die Implemente Demonstrasies word vanjaar weer deur Standard Bank geborg, wat al vir etlike jare hierby betrokke is. Volgens Nico Loock, Provinsiale Landboubestuurder van Standard Bank, is die demonstrasies tydens Megaweek uitstekend georganiseer, veral met betrekking tot die veiligheidsaspekte wat by regstreekse demonstrasies baie belangrik is.

"Standard Bank sien die ondersteuning van die demonstrasies as 'n geleentheid om sy betrokkenheid by landbou te vestig maar belangriker, om 'n bydrae te lewer tot die skep van 'n platform vir produsente om op die voorpunt van tegnologie te bly" Hy verduidelik dat dit belangrik vir volhoubare produksie is, dat produsente ingelig bly en op hoogte van die jongste tegnologie en toerusting is.

Loock sê, alhoewel hy die demonstrasies van platsnyers en balers geniet, is dit die reaksie en deelname van die produsente tydens die demonstrasies wat vir hom jaarliks uitstaan.

Plantbedekking in die vorm van Canola en Gars is vanjaar op die demonstrasie persele aangeplant. Soos in die verlede, word daaglikse demonstrasie-aktiwiteite deur die loop van Agri Mega Week beplan.

Alle besoekers aan Agri Mega Week 2011 kan die regstreekse demonstrasies gratis bywoon. Toegangsgeld na die ekspo is R25 vir volwassenes en R10 vir skoolgaande kinders.

Vir meer inligting oor Agri Mega Week 2011 of vir besprekings, kontak gerus vir Reinette Basson by 021 863 0701 of e-pos: eventsadmin@agrimega.co.za