Die President van Agri Wes-Kaap open Agri Megaweek

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 22 Oktober 2008.

 

Navrae: Leensie Streicher

 

Die 2008 Agri Megaweek wat van 17 – 20 September gestrek het, is vanjaar geopen deur die nuwe president van Agri Wes-Kaap, Mnr. Kosie Loubser. Tydens die jaarlikse openingsontbyt wat die week se verrigtinge amptelik afskop, het Loubser sowat 150 landbouers wat die ontbyt bygewoon het, toegespreek. Dit was Loubser se eerste besoek aan die Agri Megaweek en hy was duidelik beïndruk met die omvang van dié jaarlikse gebeurtenis.

Die bestuur van Agri Wes-Kaap het ook op 17 September hul bestuursvergadering in Bredasdorp gehou en na afloop van die vergadering ‘n besoek aan Agri Mega Park gebring. Mnr. Willie Smal, voorsitter van die Overberg Distrikslandbouvereniging wat ook op Agri Wes-Kaap se bestuur dien, sê dis goed dat Agri Wes-Kaap se bestuur self kom kyk wat landbou in die Overberg deur die Agri Megaweek vermag. “Hier is ‘n wenresep vir Wes-Kaapse landbou wat jaarliks van krag tot krag gaan. Deelnemers oor die hele spektrum van landbou, van kommersiële produsente tot plaaswerkers tot opkomende landbouers, vind baat by hierdie geleentheid en dit lewer ‘n waardevolle bydrae tot dié sektor,”  het Smal gesê.

Loubser het tydens sy besoek aan die Agri Megaweek gesê dat hy baie opgewonde is oor wat by die ekspo gebeur. “Die Agri Megaweek het nou ‘n onmisbare geleentheid op die landboukalender geword en bied besoekers relevante geleenthede en gebeure wat tred hou met die huidige tendense in landbou.” het Loubser gesê.