Ekspo bied platform vir interaksie
Nuusvrystelling uitgereik deur die Kantoor van Agri Mega in Bredasdorp op 11 Julie 2008.
Navrae: Leensie Streicher
Die Agri Megaweek is ‘n vertoonforum waar geboorte gegee word aan nuwe idees, visies, verhoudings en vernuwende denke. Dit het ‘n platform geword waar interaksie en indaba tussen landboumense plaasvind.
“ ‘Landbou..my kos...my kombers...my lewe.’ Met hierdie slagspreuk wil Agri Mega die regte beeld van landbou op Agri Mega Park uitdra,” sê Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega. Die Agri Megaweek vind plaas vanaf 17 tot 20 September 2008 en is die middel tot hierdie doel.
Verlede jaar kon besoekers aan die ekspo uitstallings besigtig wat altesame 40 000m² beslaan het. Die infrastruktuur van Agri Mega Park word deurlopend opgradeer en nuwe geriewe word jaarliks toegevoeg. Agri Megaweek bied dus weer vanjaar ‘n geleentheid aan uitstallers in die landbou en verwante bedrywe om hul goedere en dienste aan produsente en die algemene publiek ten toon te stel.
“Hierdie is ‘n geleentheid waar interaksie tussen produsente, verskaffers, verwerkers van produkte, kundiges, arbeid en die publiek plaasvind,” sê King.
Daagliks tydens die ekspo word demonstrasies van landboumasjinerie, -werktuie, veeverwante aksies, ensovoorts aangebied, want Agri Megaweek plaas die fokus op demonstratiewe bedrywighede. Elke uitstaller kry ook ruim geleentheid om demonstrasies volgens spesifieke behoeftes aan te bied.
Ander demonstrasies behels nadoodse ondersoeke op bees- en skaapkarkasse, behandeling van hoewe van melkbeeste en verskeie naaldwerk demo’s vir dames.
Vanjaar bied Agri Megaweek ook ‘n uitgebreide skouprogram aan wat insluit die Kaaplandse Jersey Kampioenskappe, Wes-Kaapse Ayrshire Kampioenskappe, Wes-Kaapse Guernsey Kampioenskappe, Wes-Kaapse Walliese Ponie Kampioenskappe, Overbergse Jeugskou, Wes-Kaapse Dormer Kampioenskappe, Mega Interras Vleisbees Kampioenskappe, Mega Pluimvee Kampioenskappe en die Mega Ontwikkelingskou vir opkomende boere. Saam met die skoue vind ook ‘n Dohne kuddekompetisie en ‘n merino veldskou plaas. Die Skoue word ook afgerond met vleisbees-, skaap-, bok-, vark-, pluimvee- en suiwelrastentoonstellings asook ‘n nasionale Ayrshire Veiling (Aandveiling); ‘n Kaapse Jersey Veiling en ‘n Mega Guernsey veiling.
‘n Trekkerdrywer kompetisie in samewerking met Andrag Agrico en 4x4 opleidingsessies en kompetisies in samewerking met Nedbank word ook aangebied.
Besoekers sal weer vanjaar boerepatente kan waarneem. Omnia bied vanjaar weer die boerepatente kompetisie aan, maar waardetoevoeging vind vanjaar plaas deurdat ‘n seminaar in samewerking met Omnia en die SABS aangebied word oor kreatiwiteit in ontwerp en patente-administrasie. Skoliere en studente word aangemoedig om aan die patente kompetisie deel te neem en ook te registreer vir die seminaar.
In samewerking met die Wes-Kaapse Boeremusiekgilde en Santam word die Mega Boeremusiekkompetisie weer vanjaar aangebied waar orkeste teen mekaar sal meeding. Moderne en tradisionele musiek sal op die spyskaart wees en die publiek kan kaartjies koop om dit by te woon. ‘n Gesellige ete en dans word saam hiermee aangebied.
Met die fokus op interaksie word heelwat tyd vanjaar by die Agri Megaweek afgestaan aan indaba en inligtingsessies. Die hoogtepunt is die FNB Agri Indaba wat deur Freek Robinson gefasiliteer sal word en direk op die Praat Saam program van RSG uitgesaai sal word. Hierdie lewendige debat se onderwerp handel oor grondhervorming in Suid-Afrika versus die landbou ekonomiese realiteite in die wêreld. Hierdie program word in die FNB Ouditorium op Agri Mega Park aangebied en sal lewendig op RSG uitgesaai word. Ander hoogtepunte is die konferensies vir opkomende boere en plaaswerkers wat onderskeidelik in die Landbanktent en die Overberg Agri Opleidingsaal sal plaasvind. Hier sal onderwerpe sterk fokus op rolle en verantwoordelikhede, asook voedselsekuriteit in Afrika.
Die Garsbedryf bied ook in samewerking met Agri Mega en BASF ‘n werkswinkel aan wat sal fokus op landboukundige aspekte, terwyl ‘n prominente werkswinkel in samewerking met Graan SA en SENWES in die Landbanktent aangebied sal word rakende die verantwoordelikheid van rolspelers in die Kleingraan waardeketting en billike verspreiding van voordele.
Vanjaar se Liberty Life skoleprogram wat in samewerking met die Wes-Kaapse onderwysdepartement aangebied word, sal met aktuele onderwerpe en take fokus op graad 9 leerders, terwyl die Agri Vasvra kompetisies tussen grade 11 – 12 leerders sal plaasvind. Die deelname aan hierdie programme is oop vir alle skole wat belangstel.
Die Overbergse Plaaswerker-van-die-jaar kompetisie wat in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Sanlam aangebied word, se wenners sal vanjaar by ‘n gala-aand tydens die Agri Megaweek aangekondig word. Die nuut gestigte Suid-Afrikaanse Plaaswerker Assosiasie (SAFWA) sal ook by hierdie geleentheid bekendgestel word.
Die amptelike program van die Agri Megaweek word op 18 Julie vrygestel en sal in die media beskikbaar wees. Belangstellendes kan ook die Agri Mega kantoor skakel by (028) 424 2890 of die webtuiste besoek by www.agrimega.co.za.
Agri Mega kondig ook met trots aan dat sy ankerborge wat die aanbied van die Agri Megaweek moontlik maak FNB en Total is.


















