Ekspo vir Vrugte, Wingerd en Groente
Persverklaring uitgereik deur die Kantoor van Agri Mega in Bredasdorp
Navrae: Leensie Streicher
Soos die Agri Megaweek wat jaarliks in Bredasdorp, Wes-Kaap aangebied word en fokus op die kleingraan-, suiwel- en veebedrywe ‘n groot behoefte in die landbou aanspreek en oor die jare ontwikkel het tot die grootste landbou ekspo in die Wes-Kaap (2007 – 15 000 besoekers en 40 000m2 uitstalruimte), het ‘n soortgelyke behoefte vir die vrugte-, wingerd- en groentebedrywe in hierdie provinsie ontwikkel. Ongelukkig word hierdie behoefte met ‘n bepaalde inhoud en wat gerig word op suiwer landbougebaseerde navorsing tans nie deur enige ekspo in die Wes-Kaap bevredig nie.
Agri Mega as instrument van georganiseerde landbou is nie ‘n tipiese “events” organiseerder wat, van troues tot landbou ekspo’s, reel nie, maar fokus op behoeftes uit die landbou vir die landbou en word deur verteenwoordigers uit al die landboubedryfsorganisasies geadviseer en bestuur. Die ekspo’s wat deur Agri Mega georganiseer word is deel van ‘n breër pakket dienste aan die georganiseerde landbou oor die breë spektrum wat strek van ontluikende- tot kommersiële landbou.
Onlangs het die LNR Agri Mega aangestel om die Bien Donné landbou ekspo wat jaarliks plaasvind te organiseer en bestuur, maar omdat die inhoudelike van die ekspo wat tans plaasvind nie aan markbehoeftes voldoen nie en omdat rompslomp en huidige transformasie prosesse binne die LNR dit onmoontlik maak om ‘n sinvolle ekspo aan te bied en om langtermyn beplanning in hierdie verband te doen, het Agri Mega die aanstelling van die hand gewys. Intussen is ‘n “events” organiseerder tydelik vir vanjaar se Bien Donné ekspo aangestel, maar is daar binne die LNR totale onsekerheid oor die toekoms van Bien Donné landbou ekspo.
Agri Mega het aangekondig dat hy wel ‘n landbou ekspo op dieselfde datums as wat daar vir Bien Donné beplan was, sou aanbied, omdat die indruk deur LNR amptenary geskep was dat die moontlikheid bestaan dat daar vanjaar nie ‘n ekspo sou plaasvind nie en dus ‘n leemte gelaat sou word. Met die aankondiging van Agri Mega het hy ook bedoel om die geleentheid aan te gryp om vir die vrugte-, wingerd- en groentebedrywe ‘n ekspo aan te bied wat markverwant is.
Die LNR gaan nou voort met die tradisionele Bien Donné landbou ekspo wat deur ‘n “events” organiseerder aangebied sal word.
Dit is egter belangrik vir Agri Mega om in belang van georganiseerde landbou op te tree en om veral sensitief te wees vir uitstallers en deelnemers se kostes en behoeftes waarvan die meerderheid inset- en diensverskaffers aan die landbou is. Agri Mega het dus in die lig van die LNR se besluit om in November ‘n tradisionele Bien Donné landbou ekspo aan te bied, besluit om nie op dieselfde datum ‘n markgerigte landbou ekspo aan te bied nie.
Op 16, 17 en 18 April 2009 word die Agri Cape Week met sy fokus op die vrugte-, wingerd- groentebedrywe by die Hoër Landbouskool Boland, Agter-Paarl aangebied. Hierdie landbouweek sal as vertoonforum met demonstratiewe uitstallings en landbou indaba voortbou op die suksesse wat reeds met die Agri Megaweek behaal is. Hierdie nuwe markgerigte ekspo beloof om dieselfde impak te maak as wat die Agri Megaweek reeds doen.
Die Hoër Landbouskool Boland beskik oor uitstekende fasiliteite en Agri Mega oor uitstekende kundigheid en ondervinding om interaksie op groot skaal met die Agri Cape Week te bewerkstellig. Die Agri Cape Week sal dus deur verteenwoordigers uit Agri Mega se Direksie, Boland Landbouskool se bestuur, kommersiële landbou, ontluikende landbou, plaaswerkers, borge, akademici en uitstallers bestuur word.
Inligting oor die Agri Cape Week is reeds in brosjure formaat beskikbaar en sal vanaf 9 Mei 2008 op die Agri Mega webtuiste, www.agrimega.co.za beskikbaar wees. Navrae oor die Agri Cape Week kan gerig word aan Cornea Geldenhuys by ![]()

![]()
![]()

![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
028 424 2890
of agrimega@telkomsa.net
*Agri Mega het reeds terugvoer ontvang van leier organisasies in die landbousektor en groot uitstallers dat die tydgleuf vir die Agri Cape Week ‘n uitstekende keuse is.


















