Elim Melkery smaak sukses
Nuusvrystelling uitgereik deur die Kantoor van Agri Mega in Bredasdorp
Navrae: Leensie Streicher
Sedert minister Cobus Dowry die Elim Melkery as volwaardige bemagtigde kommersiële landbouprojek in Elim geopen het, het die wiele gerol en het die melk gevloei. Die projek is tans ‘n volwaardige maatskappy en melk word aan Parmalat gelewer. Tans is 83 koeie daagliks in melk.
Onlangs het die Direksie van Elim Melkery in Bredasdorp vergader waartydens deeglik verslag gedoen is oor aspekte soos melkery bestuur, werknemer ontwikkeling, finansiële bestuur, ens. Behalwe vir enkele tegniese aspekte wat dringende aandag verlang, het alle verslae daarop gedui dat die melkery klopdisselboom loop en dat dit op ‘n roete is waar sukses gesmaak word. Die mees positiewe van hierdie ondervinding is dat alle aanduidings daar is dat positiewe finansiële resultate tans behaal word.
‘n Taakspan is aangewys om ondersoek in te stel na waardetoevoeging by die Melkery deur ‘n pasteurisering fasiliteit daar te stel om self melk te botteleer en aan die direkte gemeenskappe te lewer. Indien die potensiaal daar is, sal verdere werkskeppings- en bemagtigingsgeleenthede die gevolg daarvan wees.
Die voorsitter van die direksie van Elim Melkery, mnr. James Engel, het sy tevredenheid met die verloop van sake uitgespreek en in besonder sy dank uitgespreek teenoor die Elim gemeenskap vir hul positiewe bydrae tot die sukses van die projek, asook teenoor die werknemers vir hul pligsgetroue ondersteuning om te verseker dat die Elim Melkery ‘n model van ‘n suksesvolle landbou bemagtigingsprojek sal wees.
Mnr. Thys Ahrends, die voorsitter van die Elim Opsienersraad het op sy beurt sy gelukwense aan die Direksie van die Elim Melkery oorgedra vir die sterk besigheidsbeginsels en –dissipline wat in hierdie projek gehandhaaf word. “Elim gemeenskap is trots op hierdie onderneming en beskou die sukses van die Elim Melkery as die begin van groot landbou gebeure in die streek,” het Ahrends gesê.
Mnr. André Fourie, landbou ekonomiese adviseur vir die Elim Melkery het bevestig dat die verhuringskema van koeie waar die volle gemeenskap geleentheid kry om betrokke te raak en as “aandeelhouers” ‘n belangrike rol speel, dra by tot die geslaagde onderneming. Op Fourie se advies gaan die verhuringskema uitgebrei word sodat die volle potensiaal van die Elim Melkery tot sy reg kan kom.
Mnr. Thys Ahrends het ook sy dank uitgespreek teenoor die MPO Wes-Kaap, Agri Mega, die Overberg DLV, die Departement Landbou, borge en ander rolspelers wat deurlopend ‘n bydrae lewer tot die sukses van die Elim Melkery.


















