Geniet die goeie lewe
Nuusvrystelling uitgereik deur die kantoor van Agri Mega op 10 Julie 2008
Die Canola WAF (W = Wine; A = Agri Tourism; F = Food) vind op 8 en 9 Augustus 2008 in Swellendam plaas. Hierdie is ‘n leefstyl geleentheid waar landbouprodukte, plattelandse gasvryheid, landelike atmosfeer, pragtige natuurskoon, vermaak en besoekers saamgevoeg word om twee dae van kwaliteit lewe te geniet.
‘n Verskeidenheid stalletjies met produkte te kies en te keur en wyne om te proe, boerekos om te eet word aangevul met verskeie kompetisies wat groot vermaak behoort te verskaf Daar is die Canola Olie Toutrek kompetisie – spanne skryf in en trek dan tou op ‘n oppervlak wat met Canola olie bespuit is – ‘n bietjie Canola saad vir ekstra effek sal ook op die oppervlak gegooi word. Dan is daar die ‘Find the WAF’ kompetisie: Hierdie kompetisie behels dat ‘n voorwerp – die WAF- in ‘n miniatuur landskap versteek word. Deelnemers aan die kompetisie koop dan ‘n vlaggie en pen dit in die landskap in op die plek waar hy of sy dink die WAF versteek is. Die deelnemer wie se vlaggie die naaste aan die WAF ingepen is, wen dan die prysgeld van R10 000.
‘n Unieke potjiekos kompetisie: “So Pot ons in die Overberg” word ook aangebied vir verskillende Landbouverenigings in die Overberg en omliggende streke. Aktiwiteite met 4 x 4’s in die natuur, ‘n fietsprettrap deur die tipiese Overbergse natuurskoon, gevolg deur ‘n draf halfmarathon en perderitte en –sport vind deurlopend plaas terwyl kunstenaars soos Jody Williams(Idols wenner), Munro Du Toit, Bobby van Jaarsveld, Emo Adams, Clint & CO, Nic Stevens, Arno Jordaan, NKD, Wicus van der Merwe, Rooies en ander sterre vir heerlike topklas vermaak sorg.
Vir die dames bied die Canola WAF ‘n prestige dames oggend in samewerking met Rooi Rose. Die damesoggend neem die vorm van ‘n bruidekspo aan. Verskeie top ontwerpers se skeppings word ten tyde van die damesoggend gemodelleer, die nuutste neigings ten opsigte van troukoeke en blomme vir huweliksonthale word gedemonstreer. Verskeie uitstallings ten opsigte van venues vir huweliksonthale, fotograwe, bloemiste ens vorm ook deel van die bruidekspo.
‘n Plaasmark maak voorsiening vir heerlike plaasprodukte vir saamneem huis toe en die braaikompetisie se produkte sal vir padkos te koop wees en geskeduleerde besoeke aan die Canola olie fabriek beloof om baie interessant te wees.
‘n Skoleprogram met skop sluit verskeie kompetisies met groot pryse vir leerders en hoërskole in. ‘n Verskeidenheid van vaardighede, van dans, tot spel, tot kreatiwiteit kan jou help om ‘n paar pryse in te palm. En skole sal moet kom uitvind wat is die WAF BLAF! Die jonger kinders hoef nie bekommerd te wees nie, daar is ook hope pret by die Canola WAF vir laerskool en voorskoolse leerders. ‘n Plaaswerf met ‘n verskeidenheid diere behoort ook ‘n groot belangstellingspunt te wees.
Met ‘n borgskap van FNB word hier ‘n geleentheid gebied om weg te breek van xenofobie, stygings in rentekoerse, duurder brandstof, onbetaalbare voedselpryse, ensovoorts, ensovoorts en krag te vind in die vrede en skoonheid wat net die Overberg kan bied. Sê vir jouself: ”Swellendam, hier kom ek!” en voeg daad by die woord! ‘n Heerlike geleentheid en ‘n belegging in jouself – doen dit!
Ander interessante gebeure op die program behels onder andere ‘n Groentoerisme Werkswinkel vir die bevordering van Groentoerisme en die rol van landbou in die toerismesektor as tema. Hierdie werkswinkel word op Vrydag 8 Augustus 2008 aangebied. Die SOILL-awards wat die Canola boer van die jaar vereer sal ook plaasvind, ander toekennings vir uitstaande prestasie in die Overberg behaal, ook gemaak sal word. Die verrigtinge word Sondag 10 Augustus met ‘n interkerklike diens afgesluit.
Uitstallers: moenie hierdie uitstekende bemarkingsgeleentheid misloop nie! Tydens die Canola WAF kry uitstallers die geleentheid om op ‘n interaktiewe wyse hul produkte en dienste bekend te stel. Veral produsente van plaasprodukte en wyn behoort ‘n nismark vir hul produkte te kry wat vir seker benut moet word.
Toegangsgeld: R50 per dag vir volwassenes en R30 per dag vir skoolgaande kinders. Navrae kan gerig word aan Cornea Geldenhuys by 028 425 2524 / 028 424 2890. Webwerf: www.agrimega.co.za


















