Georganiseerde strukture nodig vir volhoubare landbou
Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 4 Mei 2009.
Navrae: Leensie
Streicher
Georganiseerde strukture nodig vir volhoubare landbou.
"Hoekom is daar nog twyfel oor die
belangrikheid van georganiseerde landbou?" Dit is die vraag wat Mnr. Deon de
Kock gevra het tydens die Overberg Distrikslandbouvereniging (DLV) se Algemene
Jaarvergadering. De Kock was die
gasspreker by die vergadering wat op Donderdag 23 April in Bredasdorp gehou is.
De Kock, Voorsitter van Overberg
Agri se Direksie en produsent in die Napier-distrik, het tydens dié geleentheid
gesê dat dit belangrik is vir landbou om ‘n "adres" en ‘n spreekbuis te hê,
veral in die globale ekonomiese speelveld waarin produsente hulself bevind.
"Produsente moet hul georganiseerde landbou strukture bewaar, nie omdat dit in
die verlede belangrik wás nie, maar omdat dit in die toekoms ‘n belangrike rol
het om te speel." Hy het verduidelik dat die wêreldtendens van produsente wat
minder raak, hoewel produksie nie noodwendig daal nie, ook op Suid-Afrika van
toepassing is en dat dit juis die rede is waarom produsente moet saamwerk.
‘n Nuwe uitvoerende bestuur vir
Overberg DLV is ook tydens die algemene jaarvergadering verkies. Willie Smal,
voorsitter van dié vereniging is vir nog ‘n termyn herkies in sy huidige amp,
terwyl Johan Montgomery van Babilonstoring Landbouvereniging, vir Dirkie Uys as
ondervoorsitter vervang. Richard Krige wat as addisionele lid op die
uitvoerende bestuur gedien het, is ook herverkies. Die res van die bestuur word
saamgestel uit die voorsitters van 12 landbouverenigings wat by die Overberg
DLV geaffilieer is, asook verteenwoordigers van verskeie geaffilieerde landboubedryfsorganisasies.
Mnr. Willie Smal het tydens die
jaarvergadering gesê dat hy bevoorreg is om deel te wees van die organisasie en
sy dank uitgespreek vir die insette wat deur lede, bestuur en personeel gelewer
is tydens sy eerste termyn as voorsitter. Hy het ook die waarde van die
vereniging uitgelig en gevra dat produsente georganiseerde landbou moet
ondersteun. "Ons moet saamwerk om die strukture in landbou ten volle te benut,"
het Smal gesê.
Foto: Van links na regs: Rian Pheiffer, Besturende Direkteur van Overberg Agri; Johan Montgomery, nuwe Ondervoorsitter van die Overberg DLV, Deon de Kock, gasspreker tydens die geleentheid, Willie Smal, voorsitter van die Overberg DLV en Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van die Overberg DLV . Foto: Leensie Streicher



















