GSA Winterstreke hou Algemene Jaarvergadering

Tydens die Algemene Jaarvergadering van Graan Suid-Afrika (GSA) se winterreënvalgebied (streke 26 en 27) wat gehou is te Rietpoel in die Overberg, het die klem sterk op eenheid in georganiseerde landbou geval.

Volgens mnr Schalk Viljoen, GSA se verteenwoordiger vir streek 27, gaan die koringbedryf tans deur sy swakste tydperk sedert deregulering - hoofsaaklik vanweë swak pryse en nie noodwendig as gevolg van klimaat of weersomstandighede nie. "Die koringbedryf sal moet saamstaan om voedselsekuriteit in die toekoms te verseker. Dit is nodig dat die regering oortuig moet word van die belangrikheid van volhoubare koring produksie," het Viljoen by navraag gesê.

Mnr Neels Ferreira, voorsitter van GSA het ook die belangrikheid van eenheid beklemtoon. Hy het gesê dat daar vennootskappe sonder duplisering moet wees en dat daar op 'n verenigde front met die regering onderhandel moet word. "Die fokus behoort altyd op volhoubare landbou te wees. Indien daar soos met vorige onderhandelings 3 groeperings (AgriSA, TLU en NAFU) is, sal die regering luister na die een wat hom pas," het Ferreira gesê. "Eenheid in landbou moet ten alle koste bewerkstellig word tot voordeel van die produsent op grondvlak. GSA, as lid van Agri Suid-Afrika, sal sy uiterste (bes) probeer om te versoen met die TLU en NAVO hoewel dit nie maklik sal wees nie".

Ferreira het voorts genoem dat "goedkoop voedsel vir die massas" die regering se weg tot politieke oorlewing sal wees. Hy het ook genoem dat die vrye mark soms ongenadig kan wees. "Niemand kan koring of mielies teen die huidige pryse winsgewend verbou nie. Die goeie nuus is dat daar 'n goeie verhouding met die nuwe Minister van Landbou bestaan". Hy het boere genoop om betrokke te raak by georganiseerde landbou: "Maak 'n verskil! Reik uit! Lig mense in! Dra 'n positiewe boodskap uit! Ons kan Suid-Afrika maak werk! Ons gaan nie 'n tweede Zimbabwe word nie!"

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder: GSA, het by Viljoen en Ferreira aangesluit en genoem dat winsgewende boerdery die beste manier is om landelike ontwikkeling te stimuleer. Ingevoerde koring belemmer plaaslike produsente se vermoë om 'n bydrae te maak tot landelike ontwikkeling. "Die toekomstige vraag na voedsel lyk baie goed, maar dit is belangrik dat die huidige produksiefasiliteite in Suid-Afrika intussen in stand gehou moet word. 'n Invoertarief is nou nodig om volhoubare koringproduksie te verseker" het Laubscher gesê.

Die mark moet altyd in ag geneem word. Voedsel moet goedkoop beskikbaar wees vir die verbruiker. Insetverskaffers en ook voedselverwerkers is medeverantwoordelik vir voedselpryse en moet nie toegelaat word om uitermatige hoë winste te maak nie. Die regering het begrip vir produsente se situasie, maar die vermoë ontbreek om iets daaraan te doen. GSA wil graag in vennootskap die regering help.

Wat SASOL-kunsmis betref, (wat onlangs skuldig bevind is aan samespanning) het Laubscher genoem dat GSA reeds regshulp oor die saak ingewin het en bevind het dat dit beter sal wees dat produsente individueel litigeer en nie kollektief nie. "GSA sal help om kanale te skep om graanprodusente by te staan. Dit is onregverdig dat produsente se winste onregmatig deur insetverskaffers gedeel word". Volgens Laubscher het GSA die voorstel aan SASOL gemaak dat die boete eerder aangewend moet word vir navorsing.

Mnr Andries Theron, voorsitter van die Wintergraan-werkgroep en GSA se verteenwoordiger vir streek 26 het gevra dat produsente die instellings wat hulle (die produsente) ondersteun terug moet ondersteun en dat produsente sterker standpunt moet inneem in die toekoms.

Nadat bogenoemde sprekers hul redes gelewer het, het die vergadering tot debatvoering oorgegaan en is verskeie voorstelle gemaak en insette gelewer vanaf die vloer. Onder meer is voorgestel dat GSA in gesprek moet gaan met die 5 plaaslike landboubesighede in die Wes-Kaap om die moontlikheid van gesamentlike bemarking te oorweeg en te bewerkstellig. Nog een van die sake wat tydens die vergadering bespreek is, is die "onregverdigheid in die spelreëls vir koring prysvastelling in die Wes-Kaap" wat deur Hennie Visser en Alwyn Dippenaar voorgelê is. Hierdie bespreking het onder meer die vasstelling van die vervoerdifferensiaal bespreek. Visser het hierdie saak ook al verlede jaar by GSA se Nasionale Kongres in Pretoria (bespreek) aangevoer. Volgens hom word 'n groot deel van die Wes-Kaapse koringproduksie in die Wes-Kaap gemaal, terwyl die volle vervoerdifferensiaal steeds op dié graan van krag is. Hardus van Vuuren van Kaap Agri het verder 'n voorlegging gedoen oor die bestaande aandeel wat die produsent in die broodprys het en dat dit moet ondersoek word en aan die verbruiker gekommunikeer moet word.

Daar is ook voorgestel dat daar 'n meer mededingende kontantmark gevestig moet word. Verder is daar voorgestel dat ingevoerde koring aan strenger standaarde moet voldoen sodat meer regverdige mededinging kan plaasvind en plaaslike produsente nie nodig hoef te hê om te kompeteer (teen) met goedkoop sub-standaard ingevoerde koring nie.

By dieselfde geleentheid is Mnr Dirk Lesch as die Swartland se Canola Boer van die jaar aangewys met 'n gemiddelde opbrengs van 1,86 ton per hektaar. Die Suid-Kaapse kandidaat sal later vanjaar aangekondig word, waarna 'n Algehele wenner aangewys sal word.