Indaba in oorvloed by Agri Megaweek

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 28 Augustus 2009.Navrae: Leensie Streicher

Indaba in oorvloed by Agri Megaweek
Agri Megaweek, wat van 15 -18 September 2009 gaan plaasvind bied ‘n uitgebreide program vir indaba en debatvoering aan. Verskeie gespreksgeleenthede met topsprekers word vir verskillende vertakkinge van die kleingraan, suiwel en veebedrywe aangebied met sprekers wat hul insette sal lewer. 
Op Dinsdag 15 September vind ‘n Konferensie vir Opkomende Boere, met sprekers insluitende Dudley Adolph (Direkteur van Plaasondersteuning en ontwikkeling) asook insette van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Die tema van vanjaar se konferensie is "Die Toekoms is nou vir volhoubare opkomende landbou." 
Sprekers soos Neels Ferreira en Dr. Kobus le Roux van LNR Kleingraan Instituut behoort die Graandebat wat op Woensdag 16 September plaasvind, die moeite werd vir elke graanboer in die Wes-Kaap te maak. Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder van Graan SA sal die gesprek lei en die geleentheid behoort groot waarde toe te voeg tot die Kleingraanbedryf.
Op Donderdag 17 September vind die 4de jaarlikse Plaaswerker Konferensie by die Agri Megaweek plaas. Met tema "Die Toekoms is nou vir volhoubare, geskoolde arbeid op plase" en sprekers insluitend Jerry Madiba, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Seta, Carl Opperman van Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Wes-Kaap en Leslie Fillis, Hoof van Rudnet beloof die konferensie om baie insiggewend vir plaaswerkers te wees. 
Op Donderdag 17 September vind ‘n Watersakedebat met onder andere Joe Emeran, Voorsitter van Overberg Water en Dr Gerhard Offringa van Ikusasa water plaas. Hierdie geleentheid is ook nuut op die Agri Mega program, maar met die toenemende vraag na skoon, gesonde water, behoort die gesprek baie aktueel en relevant te wees.
Die Suiwelbedryf kom ook vanjaar onder die vergrootglas tydens ‘n Suiweldebat wat op Vrydag 18 September gaan plaasvind. Sprekers soos Koos Coetzee, MPO Ekonoom, Melt Loubser, Voorsitter van SAMPRO en Prof Theo Kleynhans van Universiteit van Stellenbosch gaan gesels rondom die tema: "Die toekoms is nou om volhoubare melkproduksie te verseker". 
Die jaarlikse Garswerkwinkel sal ook weer op Vrydag 18 September aangebied word. Sprekers sluit in Pietman Lourens, voorsitter van SSK (Sentraal-Suid Koöperasie) se direksie, Francois Potgieter van SABBI en Rupert Anelich van BASF. Die tema is: "Die Toekoms is nou om optimale garsproduksie te verseker". Die week van indaba word verder op ‘n hoogtepunt afgesluit met die regstreekse uitsending van RSG se gewilde program "Praat Saam" Freek Robinson gaan weer die program aanbied en vanjaar se tema is: "Die tyd is nou om Suid-Afrika weer te posisioneer as netto-uitvoerder van landbouprodukte - wat doen ons?" Die Nasionale Minister van Landbou, me Tina Joemat-Pettersson neem ook aan hierdie gesprek deel. 
Die Agri Megaweek is dus ‘n moét vir enige rolspeler in Landbou, waar waardetoevoeging deur gesprekvoering en indaba ‘n hoë prominensie by vanjaar se ekspo geniet. 
Vir meer inligting en besprekings vir die onderskeie geleenthede, kontak die Mega Events kantoor by Tel: 021 863 0397 of besoek Agri Mega se webtuiste by www.agrimega.co.za;