Kompetisie vir uitstallers by Agri Mega Week 2011

Uitstallers by vanjaar se Agri Mega Week, wat vanaf Woensdag 14 tot Saterdag 16 September 2011 op Mega Park in Bredasdorp plaasvind, kan vanjaar gereed maak vir 'n nuwe kompetisie waar groot pryse op die spel is. 'n Addisionele standplaas vir Agri Mega Week 2012 vir een binne- en een buite-uitaller asook ander pryse is op die spel. Uitstallers se perseelnommer sal tydens 'n geleentheid by Agri Mega Week 2011 ingeskryf word vir 'n gelukkige trekking.

Volgens Reinette Basson, uitstallerkoördineerder by Mega Events, wil Agri Mega Week se bestuur graag erkenning gee aan uitstallers, wat as die ruggraat van die ekspo beskou word. "Die kwaliteit van uitstallings by Agri Mega Week is jaarliks puik en ons wil graag uitstallers aanmoedig om hierdie hoë standaard te handhaaf".

Mega Events, wat 'n afdeling van die Agri Mega Groep is, het ook ondernemings, spesifiek dié in die landboubedryf, genooi om hul uitstalpersele te bespreek vir vanjaar se Agri Mega Week.

Die BKB Veesentrum wat in 2010 meer permanente struktuur aan Mega Park en spesifiek vir uitstallers gebied het, word vanjaar grootliks gebruik vir die aanbied van die Merino Classic en vee-verwante uitstallings. Ander uitstallers hoef egter nie bekommerd te wees dat hulle nie weer die gerief van 'n vaste struktuur kan geniet nie: die aanbouing van 'n splinternuwe Total SA uitstalsaal is reeds onderweg en binne-uitstallers sal met Agri Mega Week 2011 hier geakkommodeer word.

Mega Events beplan verder ook 'n rusperseel vir moeë uitstallers wat vir 'n wyle 'n breuk wil neem van al die bedrywighede tydens Agri Mega Week. Vir meer inligting oor Agri Mega Week 2011 of vir besprekings, kontak gerus vir Reinette Basson by 021 863 0701 of e-pos: eventsadmin@agrimega.co.za