Landbou vir die Mense

Bekendstelling van Agri Mega Week 2011: ‘’

Agri Mega Week 2011 is tydens ‘n luisterryke geleentheid by Lemoenkloof in die Paarl, bekendgestel. Me Helen Zille, premier van die Wes-Kaap; Prof. Mohammed Karaan, dekaan van Universiteit Stellenbosch se landboufakulteit; borge; en leiers van landboudiens- en –kommoditeitsorganisasies het onder andere die bekendstelling bygewoon, en daaraan deelgeneem
Mnr Orton King, groep uitvoerende direkteur van Agri Mega Groep het gesê die geleentheid sal vanjaar op produsente, werkers, sekondêre betrokkenes en verbruikers fokus.
King het gesê Agri Mega Groep begryp dat landbou by snelle en grootskaalse veranderinge moet aanpas en dat Agri Mega Week in dié verband help. “Ons kan nie met osse ploeg en met donkies oes as ons nasies moet voed nie. Ter wille van volhoubare produksie en voedselsekerheid moet ons aanpas en Agri Mega benut onder andere Agri Mega Week om in dié verband ‘n bydrae te maak, het King gesê.

King het gesê landbou is traag om aan te pas en dat planne gemaak moet word om dít te verander. Hy sê landbou is deurspek met buro- en tegnokratiese leiers wat polities optree. “Landbouleiers sal toenemend visionêr moet dink om aan die bedryf ‘n volhoubare toekoms te bied. Leiers met visie moet na vore kom en as u weet van hulle móét u hul aanmoedig om te lei”.

King sê die land verwag van landbou om te verander en dat tyd vir transformasie en hervorming min word: “Indien ons nie die beperkte tyd tot ons beskikking ten volle benut nie, is grondbesettings en ekonomiese ineenstorting ‘n moontlikheid. Met goeie leierskap en deur die ‘Mandelas’ in die landbou-arena aktief te kry kan ons ‘n positiewe sektor skep en die toekoms met goeie verwagtinge betree”.

Hy het gesê Agri Mega is ‘n effektiewe instrument vir verandering en lewer professionele dienste vir volhoubare landboupraktyke. “Agri Mega Week is nie ‘n ekspo, ‘n fees of ‘n skou nie; dit is ‘n meganisme vir verandering.”

Agri Mega Week 2011 se tema is ‘Landbou vir die mense’, en volgens King sal plaaswerkers, produsente en verbruikers van alle kleure en herkomste die geleentheid bywoon. “Elkeen wat Agri Mega Week bywoon sal die waarde van landbou besef en verstaan dat honger mense nie sinvol kan werk, bestuur of speel nie. Honger mense kan inderdaad nie politieke gevegte voer of staak nie. Dáárom móét landbou volhoubaar wees”, het King gesê.

Agri Mega Week vind vanaf Woensdag, 14 September tot Vrydag, 16 September by Mega Park in Bredasdorp plaas.