Landbouleiers besoek Theewaterskloof se Burgemeester

Plaaslike landbouleiers het op Vrydag 9 April, besoek aan Chris Punt, Burgemeester van die Theewaterskloof Munisipaliteit en lede van sy bestuur op Caledon afgelê. Die vergadering het plaasgevind op versoek van Raadsheer Punt.

Punt het plaaslike landbouprodusente geloof vir hul bydra tot voedselproduksie, werkskepping en die bydrae wat die landbou maak ten opsigte van die ekonomiese welvaart vir die streek.

Hoewel Punt verskeie hoogtepunte en suksesverhale gedurende sy termyn as burgemeester uitgelig het, het hy ook sy kommer uitgespreek oor sekere uitdagings soos byvoorbeeld die toestroming van mense uit die Oos-Kaap en buurlande, wat nie net tot sosiale probleme soos xenofobie kan lei nie, maar ook geweldige druk plaas op bestaande infrastruktuur. “Dit plaas geweldige druk op die owerhede om werksgeleenthede en behoorlike behuising aan almal te verskaf”, het Punt gesê.

Voorsitters van verskeie landbouverenigings uit die streek het die geleentheid bygewoon en insette gelewer.

Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van die Overberg Distrikslandbouvereniging, het aangesluit by Punt en genoem dat die volhoubaarheid van landbouproduksie uiters belangrik is. “Om volhoubare landbouproduksie te stimuleer, behoort die plaaslike owerheid ‘n gunstige klimaat te skep waarbinne sekondêre landboubedrywe kan floreer”, het King gesê. “Sodoende, hoef plaaslike Overbergse produkte nie na ander streke “uitgevoer” te word vir verwerking nie, en word die plaaslike ekonomie gestimuleer.”

King het voorts genoem dat die landbousektor die burgemeester se belangstelling in die landbou verwelkom en waardeer, en verál die feit dat volhoubare landbouproduksie as ‘n prioriteit geag word.

Punt het op sy beurt voorgestel dat ‘n amptelike beraad later vanjaar, verkieslik in Augustus, tussen die landbousektor en die plaaslike owerhede gehou word. Hiertydens moet ‘n aksieplan opgestel word wat volhoubare landbouproduksie in die streek sal bevorder. Die aksieplan sal ook ander knelpunte soos die welstand en behuising van plaaswerkers aanspreek.