Mega Steak Week ook vir jagters 'n tuiste
Hoewel die Mega Steak Week, wat van Donderdag 14 - 16 Saterdag April by Hoër Landbouskool Boland aangebied word, grootliks op die rooivleisbedryf fokus, kan besoekers ook uitsien na 'n fokus op die Wildsvleis- en jagbedryf in Suid-Afrika en spesifiek die Wes-Kaap.
Die Kaapse Jagters en Wildbewaringsvereniging of Kaapjag soos dit algemeen bekend staan, sal ook aan die Mega Steak Week deelneem deur 'n uitstalling en betrokkenheid in aktiwiteite.
Kaapjag is 'n lewendige vereniging met bykans 2800 lede geaffilieer by CHASA as een van die 22 lidverenigings in Suid-Afrika. Kaapjag se lede is verspreid oor die hele Wes-Kaap en gegroepeer in agt takke met 'n negende een in wording. Die groepering in takverband is met die uitsluitlike doel om jagters geografies bymekaar te voeg en dienste en aktiwiteite nader aan die lede te bring.
Die Kaapjag bied 'n verskeidenheid van aktiwiteite aan sy lede. Dit word uitgedra deur die vereniging se Credo wat ons fokus plaas op jag op 'n verantwoordelike wyse met 'n deurlopende bewaringsgesinde ingesteldheid. Hulle rus lede toe met kennis en verbeterde vaardigheid op beide die vuurwapenhanterings- sowel as die jaggebied. Kaapjag en sy lede is gesteld op hul verantwoordelikheid teenoor die natuur en gevolglik is lede betrokke by verskeie projekte. Kom vind gerus meer uit oor Kaapjag by Mega Steak Week en leer meer van dié organisasie en sy aktiwiteite.
Vir meer inligting oor Mega Steak Week, kontak vir Reinette Basson by 021 863 0701.


















