Merino Classic 2011

Merino Classic 2011

Merino Classic 2011 word vanjaar tydens Agri Mega Week op Bredasdorp aangebied. Dit beloof om weereens ‘n ongelooflike Merino gebeurtenis te wees. Merinotelers en entoesiaste van oraloor word by hierdie spog geleentheid wat jaarliks aangebied word, verwag. Organiseerders is reeds druk besig met voorbereidings vir die groot getal Merino skape en -mense wat verwag word. Die titelborge van vanjaar se Merino Classic is BKB en ABSA.

 

Die Program vir 2011 se Merino Classic sluit onder meer die Merino SA Algemene Jaarvergadering asook ‘n raadsvergadering in, waar bekendes in Merino-kringe byeen sal wees om dié wolras se aktiwiteite van die afgelope jaar te bespreek en ook te besin oor die toekoms.

 

Op Woensdag, 14 September, word ‘n Merino-skoleprogram vir plaaslike skoolleerders beplan wat Agri Mega Week 2011 besoek en die aand sal die Merino Classic amptelik geopen word. Die skouverrigtinge sal op Donderdag die 15de en Vrydag die 16de in die BKB Veesentrum gehou word. Albie Muller, ‘n bekende in die Merino-geledere, sal vanjaar die goue stem van Merino Classic wees en sal tydens die duur van die Skou as aankondiger optree. Geskeduleerde fotosessies vir kategoriewenners sal ook gereël word om die nodige erkenning aan die deelnemers se prestasies te gee.

Die Merino Classic gee ‘n klein blik op van die seleksie beginsels oftewel praktyke wat deur Merinotelers toegepas word, deurdat Merino’s in verskillende kompetisies wat met die “Classic” aangebied word sal deelneem. Van die kompetisies berus op subjektiewe beoordeling terwyl ‘n ander op werklike ekonomiese produksieprestasie van deelnemende skape berus.

 

Die vagkompetisie sluit by hierdie klem op die meet van ekonomiese belangrike eienskappe aan en word met groot entoesiasme ondersteun. Robert Scott is die man aan die stuur van die Merino vagkompetisie en is reeds flink besig om vagte vir die kompetisie in te samel.

 

Vir die verbruiker word die uitsonderlike kenmerk van Merino-wol soos elastisiteit, sagtheid, vogabsorbering, duursaamheid en vlekbestandheid in die kalklig geplaas met “Farm to Fashion”-aanbiedinge wat op 15 en 16 September gehou sal word. Pragtige uitrustings, vervaardig van Merino-wol, sal vertoon word. Gedink dis net vir mense wat breipatrone wil uitruil? Dink weer! Voorste internasionale mode-ontwerpers soos Giorgio Armani, Louis Vuitton en Prada is lief daarvoor om met Merino-uitrustings te werk (Besoek gerus www.merino.com vir ‘n paar voorbeelde).

 

Besoekers en deelnemers aan Merino Classic 2011 kan egter ook uitsien na die verskeidenheid van aktiwiteite, uistallings demonstrasies en vele meer by Agri Mega Week 2011. Vir meer inligting rakende die Merino Classic 2011, kontak gerus vir Pikkie Louw by 082 566 5880. Navrae en besprekings vir uitstallers kan gerig word aan Reinette Basson by 021 863 0701 of eventsadmin@agrimega.co.za of besoek gerus Agri Mega Week se webtuiste by http://agrimega.co.za/agrimegaweek-2011.