'n Pluimpie vir georganiseerde landbou

Volgens 'n konsep-omgewingsimpakbepalingsverslag, wat onlangs aan alle belanghebbendes en geaffekteerde partye uitgestuur is, wil dit voorkom asof Bantamsklip (vir eers) verwyder as keuse vir die beplande Nuclear-1 kernkragsentrale.

Die hoofsaaklike redes wat aangevoer word is onder andere die hoë koste en impak van die transmissie-lyne wat regoor die Overberg opgerig sou moes word, die vervoerprobleme vanaf Kaapstad-hawe na Bantamsklip (via die bergpasse) wat ondervind sou word en wat ook die konstruksie van 'n duur nuwe brug sou verg, en dan die feit dat die Bantamsklip area in 'n gebied met hoë eko-toerisme potensiaal geleë is.

Thyspunt (naby PE) word volgens die verslag as eerste keuse-perseel aanbeveel en Duynefontein (naby Koeberg) as tweede keuse.

Ongelukkig beteken dit nie dat Bantamsklip vir altyd as potensiële perseel uitgegooi word nie. Die volgende aanhaling kom direk uit die verslag:"...all specialists agreed that there are no fatal flaws at any of the sites, and that all three sites are suitable for development of a nuclear power station in time."

Kommentaar op die verslag kan nog gelewer word tot en met die 10de Mei.

Alle belanghebbendes en geaffekteerde partye word uitgenooi om die openbare vergaderings, waar die bevindings van die konsep-omgewingsimpakstudie oorgedra sal word, by te woon. Vir meer inligting hieroor en om uit te vind hoe en waar die verslag besigtig kan word, kontak Me Bongi Shinga van ACER Omgewingsbestuurkonsultante by 086 010 4985 of nuclear1@acerafrica.co.za

Die Overberg DLV het saam met ander belangegroepe en geaffekteerde partye deelgeneem aan die aksie teen die oprigting van die voorgenome Bantamsklip kernkragsentrale. Mnr Geoff Hobbs, wat aan die hoof gestaan het van die ODLV se aksiekomitee, het genoem dat dit juis sulke aksies en resultate is wat dit die moeite werd maak vir produsente om aan georganiseerde landbou deel te neem.