Nasionale skaapskeer- en wolhanteringskampioenskappe by Agri Megaweek

 

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 1 Julie 2009.

Navrae: Leensie Streicher

 

Nasionale skaapskeer- en wolhanteringskampioenskappe by Agri Megaweek

 

Sowat 1200 skape gaan binne twee dae geskeer word by die Nasionale Skaapskeer en wolhanteringskampioenskappe wat vanjaar tydens die Agri Megaweek gehou gaan word. Die Agri Megaweek vind van 15 -18 September op die Agri Mega Park in Bredasdorp plaas. Skeerders en wolhanteerders van regoor die land, insluitend die wêreld se top vier skeerders in, gaan tydens die kompetisie met mekaar meeding .

 

Voor die kompetisie sal verskeie nuwe beamptes uit die Overberg omgewing ook opleiding ontvang om as beoordelaars tydens die kampioenskappe op te tree. Hulle sal saam met nasionaal- geakkrediteerde beoordelaars optree, waarvan sommiges al by die wêreldkampioenskappe beoordeel het. Tydens die kompetisie word hanteerders beoordeel op grond van spoed, korrekte wolklassifisering en hantering van vagte. Skeerders, wat in 2 kategorieë deelneem, naamlik handskêr- en masjienskeer, word beoordeel op grond van spoed en kwaliteit.

 

Volgens Mnr Hendrik Botha, voorsitter van die Nasionale Skeerfederasie, word die nasionale kampioenskappe reeds vir meer as 25 jaar gehou en is dit baie gewild onder toeskouers. “Skaapskeer is ‘n amptelike nasionale sport in Suid-Afrika en hoewel skeerders normaalweg op die plaas bloot ‘n werk verrig, is die omstandighede in die kompetisie baie anders. Dán is dit ‘n hoogs kompeterende sport en baie opwindend,” het Botha by navraag gesê.

 

Logistieke reëlings vir die aanbied van die kompetisie het ‘n groot omvang en lewer op die ou einde nie net ‘n puik kompetisie nie, maar bring ook kundigheid na beamptes in die veld en goeie blootstelling vir die wolbedryf, sowel vir skaapskeer en wolhantering as sport. Sowat 3000 lammers of skape moet vooraf beskikbaar gestel word om ‘n eenvormige groep van ± 1200 skape saam te stel vir die kampioenskappe.

 

Volgens Botha is dit die eerste keer dat die Nasionale kampioenskappe in die Wes-Kaap gehou gaan word en is hulle baie opgewonde om die kompetisie op Bredasdorp te hou. Vir meer inligting besoek Agri Mega se webtuiste by www.agrimega.co.za.

 

 

Foto: Skaapskeerders sal meeding in die Nasionale Skaapskeer- en wolhanteringskampioenskappe by vanjaar se Agri Mega Week.