Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor op 7 April 2010
Die Agri Mega Groep, insluitende Mega Events wat in die Paarl-kantore van die groep gesetel is, ondervind tans probleme met telefoonlyne nadat die kantore onlangs na Louwslaan in Suider-Paarl verskuif is. Volgens Mnr Jerome Topley, Hoofbestuurder: Kommunikasie en Ontwikkeling van Agri Mega Groep, moet die diensverskaffer aanspreeklikheid vir hierdie uiters frustrerende situasie aanvaar. "Met Agri Cape Week 2010 op hande (15-17 April 2010), veroorsaak hierdie onverklaarbare swak operasionele beplanning deur die nasionale landlyn diensverskaffer oneindige hoofbrekens wat die Agri Mega Groep duur te staan kom", het Topley by navraag verduidelik. Hy sê verder dat kliënte en belangstellendes met navrae steeds die kantoor kan kontak by 'n alternatiewe nommer. Hierdie nommer is 021 863 0069. Mega Events kan ook per e-pos gekontak word by events@agrimega.co.za; megaevents@agrimega.co.za of eventsadmin@megaevents.co.za "Ons vra om verskoning vir die ongerief wat die situasie vir ons kliënte en vennote veroorsaak. Ons kontak die diensverskaffer egter op 'n gereelde basis in 'n daadwerklike poging om die probleem so spoedig moontlik op te los" het Topley verder benadruk.


















