Nuwe voorsitter vir Overberg Distrikslandbouvereniging

Tydens die Overberg Distrikslandbouvereniging (ODLV) se Algemene Jaarvergadering, wat gehou is op Dinsdag 13 April in Die Koringaar, Caledon, is Johan Montgomery van die Babilonstoring Landbouvereniging, tot voorsitter verkies. Hy was voorheen visevoorsitter. Richard Krige, van Caledon Jongensklip Landbouvereniging, is die nuwe visevoorsitter.

Die uittredende ODLV-voorsitter, Willie Smal het die posisie beklee sedert die ontstaan van die ODLV in 2006.

Smal het in sy uittreerede genoem dat die landbou tans onder moeilike omstandighede funksioneer. "Te midde van die veelbesproke 2010, bevind die landbou homself gedurig in die spervuur, verál die afgelope paar weke" het hy gesê, met verwysing na Julius Malema van die ANC Jeugliga se onlangse opruiende uitsprake, asook na die regering se onlangse voorstelle oor die moontlike nasionalisering van landbougrond. Smal het voorts genoem dat voedselsekuriteit in gedrang is, weens die hoë persentasie grondhervormingsprojekte wat misluk.

Dit is volgens Smal egter belangrik dat landbouers, selfs onder hierdie moeilike omstandighede, hul geloof en passie moet behou. "Ten spyte van moeilike omstandighede is daar soveel suksesse", het hy gesê, en produsente aangemoedig om positief te bly.

Tydens dieselfde geleentheid het Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes Universiteit, 'n toekomstige politieke scenario vir die landbou geskets. "Die wêreld verander gedurig en ten spyte van ons verskille in hierdie land, moet daar eerder gefokus word op wat ons in gemeen het", het Venter gesê. Hy het verder gewaarsku dat ons te midde van 'n veranderende wêreld, nie vasgevang moet raak in ou denke en patrone nie, maar die wêreld waarin ons leef voortdurend moet evalueer en daarby aanpas om te oorleef.

"Landbou speel 'n uiters belangrike rol in die veranderinge in die land. Die Zuma-regering besef dat daar 'n toenemende voedselskaarste is, en erken kommersiële landbou se bydrae tot voedselproduksie". Venter het onder meer verwys na die kennis (institutional memory) waaroor die kommersiële landbou beskik en as voorbeeld genoem dat sommige landboubesighede al langer as 100 jaar bestaan.

"Dit is belangrik dat ons visie oor die toekoms duidelik sigbaar moet wees in ons korttermyn prioriteite. Die Zuma-regering is meer bereid om na die landbou te luister, daarom moet die geleentheid benut nou word om die bedryf gunstig vir die toekoms te posisioneer" het Venter gesê. Hy het egter gemaan dat die landbou steeds 'n "beeld-probleem" het, en dat die nodige kundigheid verkry sal moet word om die probleem aan te spreek, veral wanneer daar met die regering onderhandel word.