Overberg: Plaaswerker van die jaar
Nuusvrystelling uitgereik deur die kantoor van die Hoof Uitvoerende Beampte van
Agri Mega
deur Nicolene Beeslaar van Sanlam.
Die Overberg se streekwenners in die jaarlikse Plaaswerker-van-die-Jaarkompetisie is pas, Woensdag 29 Augustus op ‘n geleentheid op Bredasdorp aangewys. Altesame 15 plaaswerkers het in die vyf kategorieë meegeding.
Johannes Jansen, wat die kategorie vir junior bestuur gewen het, is as die streekwenner aangewys. Die ander wenners is Hendrik Snyders (algemene werker), Liza Botha (administratiewe personeel), Dirk Cupido (tegniese operateur), Johannes Jansen (besproeiingsspesialis).
Volgens die beoordelaars moes die deelnemers aan streng kriteria voldoen om aan die kompetisie deel te neem. ‘n Skriftelike nominasie is vir al die deelnemers ingedien waarna daar met elkeen ‘n onderhoud gevoer is. Die onderhoude is deur ‘n span kundige en objektiewe beoordelaars gehanteer en het verskeie landbouverwante vrae aan die deelnemers behels.
Elkeen van die wenners het ‘n kontantbedrag van R1250-00 asook ‘n trofee ontvang. Prysgeld vir die tweede en derde plekke was onderskeidelik R750-00 en R500-00.
Die beoordelaars was dit eens dat die kompetisie uiters mededingend was en dat die kandidate deur die bank goed voorbereid was. Die entoesiastiese deelname is ‘n bewys dat die kompetisie beslis ‘n groot rol speel om plaaswerkers aan te moedig om hul vernuf en kennis uit te brei.
Sanlam en die Departement van Landbou was die mede-borge van die kompetisie. Volgens Erna Wetzel, bemarkingsbestuurder van Sanlam Cobalt, het die Plaaswerker-van-die-Jaarkompetisie ses jaar gelede in die Hexvallei begin waarna dit na verskeie streke in die Wes-Kaap uitgebrei is.
Tans neem plaaswerkers uit die Koue Bokkeveld, die Breërivier, Bergrivier, Piket Bo-Berg, die Hexvallei en die Overberg aan die kompetisie deel.
Die onderskeie streekwenners kom in Oktober teen mekaar te staan wanneer die provinsiale wenners aangekondig sal word. Prysgeld van R3000-00 wag op die algehele wenner.


















