Overberg Plaaswerker van die jaar kompetisie vir 2009 het afgeskop
Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op
16 Februarie 2009
Navrae: Leensie Streicher
Agri Mega fasiliteer weer vanjaar die Plaaswerker van die Jaar kompetisie vir die Overberg streek. Hierdie kompetisie word aangebied deur die Departement van Landbou Wes-Kaap en Sanlam. Die kompetisie het ontstaan om erkenning te gee aan die waardevolle en belangrike bydrae wat die plaaswerker tot die volhoubaarheid en groei van landbou in Suid-Afrika lewer.
Dit word op streekbasis oral in die Wes-Kaap aangebied en uiteindelik dring streekswenners deur om op provinsiale vlak mee te ding.
Die Overberg streek se kompetisie het reeds afgeskop en nominasies word reeds ingewag. Die Overberg streekswenners word in September 2009 tydens die jaarlikse Agri Mega Week aangewys. Sluitingsdatum vir die kompetisie is 14 Augustus 2009 en beoordeling vind plaas in die week van 24 – 28 Augustus 2009.
Die kompetisie akkommodeer die volgende kategorieë waarvoor nominasies ingewag word:
- Algemene werker
- Spesialis werker
- Trekkerdrywer
- Administrasie personeel
- Tegniese operateur
- Besproeiingspesialis
- Junior Bestuur
- Middelbestuur
- Senior Bestuur
In elke kategorie word ‘n wenner, naaswenner en tweede naaswenner aangewys. Uit al die eerste plekke van die kategorieë word ‘n Plaaswerker van die Jaar vir die streek aangewys. Prysgelde vir hierdie wenners is soos volg:
- Plaaswerker van die Jaar vir die streek: R1700-00
- Kategoriewenner vir die Streek: 1ste plek: R1500-00
2de plek: R900-00
3de plek: R700-00
Mnr. Orton King van Agri Mega het ‘n ernstige beroep op landbouprodusente gedoen om by hierdie kompetisie betrokke te raak en plaaswerkers daarvoor te nomineer. “Plaaswerkers is die belangrikste bate op enige plaas en speel ‘n primêre rol in die ekonomie van elke boerdery. Waar plaaswerkers uitstyg as presteerders behoort ruim erkenning daarvoor gegee te word” het King gesê.
Inligting en nominasies kan op die Agri Mega webtuiste by www.agrimega.co.za gekry word of telefoniese navrae kan gerig word by Tel: 028 424 2890.

Foto: Adelia Hess, Overberg se Plaaswerker van die jaar vir 2008. Hess is werksaam by die Elim
melkery projek en het die Overberg ook by die Provinsiale kompetisie verteenwoordig.
Foto: 2008 © Thinus Maritz


















