“Pioniers in Agri Transformasie”-program by Agri Mega Week 2010 aangebied
Agri Mega Week 2010 het op Donderdag 16 September gasheer gespeel vir ‘n unieke program: “Pioniers in Agri Transformasie” wat gesamentlik deur Standard Bank en Santam Landbou geborg is.
Hierdie inligtingsessie het op transformasie en bemagtiging in die landbou, spesifiek die Wes-Kaap, gefokus en drie suksesverhale is uitgelig.
Trevor Abrahams van Trevor’s Boerdery en sy mentor, Robert Graaff, asook Leon Myburgh van Agri Dwala en een van die projek se mentors, Koos van Zyl, tesame met groenteprodusent Maryne Marengo-Barnard, het hul stories gedeel. Suksesstories, mislukkings, lesse geleer en die uitdagings en struikelblokke wat in die onderskeie projekte ervaar is, het baie stof tot nadenke gelaat. Die reaksie op die program was baie positief. Pionierboere, sowel as hul mentors, is spreekbeurte gegun en daar is ook geleentheid vir vrae gegee wat ‘n interaktiewe sessie tussen sprekers en gaste verseker het.
“Die eerste vraag wat ‘n mens jouself afvra na die aanbieding van enige aktiwiteit in die breë en nasionale belang is of dit suksesvol was en het dit die gewenste impak gehad?” het Trevor Abrahams na afloop van die program gesê. “My persoonlike terugvoer na die sessie by Agri Mega Week was ‘WOW...! Die boere het dit gelaaik!’”
Abrahams glo die redes vir die sukses is omdat die program anders as vorige Pionierboer-geleenthede was. Daar is gefokus op die toekoms van ‘n geïntegreerde landbou sektor, kommersiële- en kleinskaalse boere, mentors en die regering. Almal het ‘n platform gedeel om landbou positief uit te beeld. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het ook vir die eerste keer die kommoditeitsbenadering binne ‘n transformerende landbousektor aan die breër landbougemeenskap ten toon gestel.
“Daar was ook, vir ‘n verandering, kommunikasie tussen deelnemers van Equity skemas, 100% swartboere en kommersiële boere en so ervaar hulle die gevoel van samehorigheid en hul rol in voedselsekuriteit,” het Abrahams bygevoeg.
‘n Afgetrede boer van Ceres en voormalige mentor, Jannie Frick, se terugvoer was: “Ek het die program terdeë geniet. Julle is op die regte koers. Alle sterkte met julle in belang van landbou.”
Die program het verder ook insette van Joyene Isaacs, Departementshoof: Wes-Kaap Landbou en Dudley Adolph, Hoofdirekteur van Produsente Ondersteuning en Ontwikkeling gehad.
Foto 1: Maryna Barnard (Pionierboer), Joyene Isaacs(Hoof, Wes-Kaapse Departement van Landbou) en Robert Graaff (mentor van Trevor’s Boerderyprojek) tydens die Pioniers in Agri Transformasie-program wat geborg is deur Santam Landbou en Standard Bank.
Foto 2: Leon Myburgh, begunstigde van die Agri Dwala Projek aan die word tydens die Pioniers in Agri Tranformasie-program.


















