Plaaswerker konferensie voeg waarde toe

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 22 Oktober 2008.

 

Navrae: Leensie Streicher

 

Op 17 September 2008 is die derde jaarlikse plaaswerker konferensie tydens die Agri Megaweek gehou. Vanjaar het die fokus van die konferensie op voedselsekuriteit gefokus en spesifiek die Plaaswerker se rol daarin.
 
Die verrigtinge is met gebed en Skriflesing deur Past. Frans van Schalkwyk geopen. Me. Celeste Cloete-Carolus het as programbestuurder vir die dag opgetree. ‘n Spesiale verwelkomingswoord is deur die Uitvoerende Burgemeester van die Overberg Distrikmunisipaliteit, Rdl. Maurencia Gillion, gelewer.  Sy het ‘n beroep op die jeug en vroue gedoen om hulle te bemagtig, om hul rol in landbou te vervul. Daar kan ook met trots verwys word na die vennootskap tussen Agri Mega en die Distriksmunisipaliteit om die omstandighede van die plaaswerkers te verbeter.

Die Suid-Afrikaanse Plaaswerkers Assosiasie (SAPWA), wie primêr daarna strewe om die plaaswerkers op sosiale en ekonomiese vlak te bemagtig en op te lei, is deur een van sy bestuurslede, mnr. Cedric Bruintjies, verteenwoordig. ‘n Groep afgevaardigdes van BAWSI, onder leiding van Nosey Pieterse het ook by die konferensie aangesluit.

Die voedselkrisis van ons land het weereens die belangrike rol van die plaaswerkers beklemtoon, maar ook die bydrae wat gelewer moet word om die plaaswerkers te bemagtig. Geleenthede moet gesoek en benut word om plaaswerkers te bemagtig. Om egter hierdie voedselkrisis te oorkom moet voedsel beskikbaar, bekostigbaar en aanvaarbaar wees vir die verbruiker.

Mnr. Villiers Loubser, Kommersiële boer en Bestuurslid van Agri Wes-Kaap, voel sterk oor gesonde verhoudings tussen werkgewer en –nemer. Om hierdie verhoudings te bevorder moet daar in alle partye se belange opgetree word en is daar in SA reeds wetgewing hiervoor in plek. Die afname in die getal plaaswerkers is groot rede tot kommer vir hierdie bedryf. Dit moet en alle tye ‘n wen-wen situasie tussen werknemer en produsent wees sodat plaaswerkers vir ons behoue kan bly. Opleidingsgeleenthede vir plaaswerkers se kinders, die beskikbaarheid van grond, plaasuitsettings en onvoldoende behuising van plaaswerkers was van die vrae vanaf die gehoor.
 
Mnr. Theo Botha, Bestuurder van Wes-Kaap: Omnia het ‘n uitnodiging aan die konferensiegangers gerig om hierdie organisasie as ‘n belangrike skakel te sien om besigheidsvennote bymekaar te bring. Omnia tree as fasiliteerder op, maar gee ook inligting t.o.v. die koop van ‘n plaas, die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid daarvan.
 
‘n Spesiale dank aan die borge van die dag nl. Sanlam en Omnia. Hulle het gesorg pryse soos kruideniersware, kontant en selfoon wat vir die plaaswerkers hierdie dag nog meer spesiaal gemaak het. Ter afsluiting het me. Jacky Cupido op ‘n besondere wyse die plaaswerkers bedank vir hul harde werk, maar hulle ook aangemoedig om hulle omstandighede te verbeter deur self skouer aan die wiel te sit.  Met dank aan Jacqueline Cupido, Gemeenskap ontwikkelingsbeampte, Departement van Landbou Wes-Kaap, vir inligting.