Praat Saam oor landbou by Agri Megaweek

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 01 September 2009.
Navrae: Leensie Streicher

Praat Saam oor landbou by Agri Megaweek
Een van die belangrikste komponente van die Agri Megaweek wat aan hierdie ekspo sy unieke aard verleen is die skep van geleenthede vir indaba tussen produsente (kommersieel of opkomend), insetverskaffers, landboubesighede, regeringsinstansies, plaaswerkers en verskeie ander belangegroepe in die landbou. Die bespreking en debattering van die unieke uitdagings wat voor primêre landbou te staan kom, word al hoe meer noodsaaklik. Produsente veral, moet deelneem aan die gesprekke rondom landbou en daardeur verseker dat daar nie net begrip en respek tussen die verskillende partye sal heers nie, maar dat landbou as geheel ‘n relevante besprekingspunt is en prominent in die gesprekke en besprekings van ons land se inwoners en besluitnemers sal wees. 
Die regstreekse aanbieding van die RSG program: “Praat Saam”, met Freek Robinson, skep vanjaar weer hierdie geleentheid vir gesprekvoering en indaba. Die program is verlede jaar ook regstreeks vanaf die Agri Mega Park in Bredasdorp tydens die Agri Megaweek aangebied, waartydens die onderwerp: “Die uitdagings van grondhervorming versus die versekering van voedselsekuriteit” deur ‘n paneel van rolspelers hanteer is. 
Belangrike insette is gemaak deur sowel die lede van die paneel, as produsente wat die uitsending bygewoon het en luisteraars wat ingebel het. 
Vanjaar word die Praat Saam-program weer regstreeks uitgesaai vanaf die Agri Mega Park op Vrydag die 18de September 2009. Die geleentheid word geborg deur FNB (hoofborg) en Sasol Nitro (medeborg) en sal soos verlede jaar weer vanaf die FNB Ouditorium uitgesaai word. Die tema vir vanjaar se gesprek is: “Die tyd is nou om Suid-Afrika weer te posisioneer as ’n netto uitvoerder van landbouprodukte – wat doen ons?”. Die tema spreek ’n groot vraagstuk in landbou aan, ’n realiteit wat in ’n tyd van ekonomiese onsekerheid en toenemende vraag na voedselsekuriteit, alle rolspelers baie sterk tot verantwoording en deelname roep. 
Alle rolspelers in die landbousektor, besoekers aan die Agri Megaweek en luisteraars van RSG wat belang het by die Suid-Afrikaanse landbousektor, kan nie hierdie gespreksgeleentheid misloop nie. Met Freek Robinson se uitstekende styl van aanbieding behoort die aanbieding ook verder waarde toe te voeg tot landbou as ’n geheel en is die belangrikheid van hierdie gesprek verrykend vir die landbousektor.