Premier besoek Canola WAF
Nuusvrystelling uitgereik deur die kantoor van Agri Mega, Bredasdorp op
29 Julie 2008
Navrae: Leensie Streicher
Die Canola Waf se reëlings betree nou die finale pylvak om te verseker dat besoekers en deelnemers twee dae van Overberg-leefstyl op Swellendam kan ervaar. Hierdie geleentheid is een van die hoogtepunte in die program van die Overberg en beloof om vanjaar die vorm van ‘n feestelike ekspo aan te neem.
Groot getalle besoekers vanuit die Overberg, Boland, Suid-Kaap en ander omliggende gebiede word vanjaar by hierdie groot geleentheid verwag, maar aanduidings is daar dat die stedelinge uit die Kaapse Metropool gaan opruk na Swellendam om die negatiewe klimaat van misdaad, finansiële stres en ander dergelike dempende faktore te ruil vir die groen tapyte van die Overberg, vars lug, heerlike plattelandse kos en wyn met gepaardgaande gasvryheid soos jy net in die Overberg kry. ‘n Twee dae reses in Swellendam in ‘n omgewing van vrede en ‘n leefstyl ervaring saam met ander vriende wat weer die kosbare bates van Suid-Afrika laat herleef.
Die Canola WAF bied ‘n verskeidenheid programme vir die hele gesin. Van ‘n plaaswerf met springkastele vir die kleinspan tot ‘n plaasmark vir landbouprodukte en crafts en hope fun wat insluit ‘n bergfiets marathon, ‘n half-marathon, lekker vars lug, draf, perdry in die natuur, toutrek in Canola olie en ‘n “find the WAF” kompetisie waar R10 000 gewen kan word.
Benewens al hierdie opwinding soos genoem is daar ook ander aktiwiteite van ‘n meer ernstige aard soos ‘n ontbytsessie geborg deur FNB waar dr Kobus Laubscher die graanboere toespreek oor die landbou uitdagings van die tyd. ‘n Omgewingsvriendelike Toerisme werkswinkel word in samewerking met ABI aangebied en hierdie geleentheid behoort deur elke entrepreneur in die toerismebedryf bygewoon te word.
Die Wes-Kaap se nuwe premier, Minister Lynne Brown tree as openingspreker by die Toerisme Werkswinkel op en sal ook ‘n besoek by die Canola WAF se aktiwiteite uitstallings aflê. Die uitstallings wat deur haar besoek sal word sluit onder andere puik toerisme uitstallings in.
Die Canola WAF verdien ook bonuspunte vir die puik kunstenaarsprogram wat aangebied word. Vanaf Vrydagmiddag tot Saterdag laataand kan die optrede van puik kunstenaars geniet word. Onder die top sterre verskyn onder andere Jody die Idols-wenner, Bobby Van Jaarsveld, Emo Adams, NKD en Wicus van der Merwe. Vir ‘n skrale toegang van R50 vir volwassenes en R30 vir kinders, mag hierdie geleentheid nie misgeloop word nie.
Sien jou by die Canola WAF!


















