Reën bied welkome verligting vir Overberg se graan en veeboere.
Volgens ‘n opname wat deur die Overberg Distrikslandbouvereniging (ODLV) op Woensdag, 12 Mei 2010 gedoen is, het daar heerlike, sagte deurdringende reën geval in die grootste gedeelte van die Overberg. Die Overberg-streek ervaar sedert die naweek gunstige weerstoestande vir neerslag.
Tot soveel as 24mm is op plase in die Bredasdorp vlakte en in die Strandveld-gebied gemeet. In die Ouplaas, Rûens en Greyton areas is gemiddeld 8 - 9mm gemeet.
Uit die Hemel-en-Aarde vallei, berig Johan Montgomery, Voorsitter van die ODLV, dat daar ongeveer 20mm reën geval het. Ongelukkig is daar ook tot soveel as 10% meganiese windskade deur sommige vrugteboere in die vallei gerapporteer. Veral jong aanplantings het skade gely.
Verder is daar steeds streke wat dringend op reën wag. In die Riviersonderend/Stormsvlei area het daar slegs 3 mm reën geval.
Volgens Schalk Viljoen, Hoofbestuurslid van Graan SA, Streek 27, is daar heelwat graanprodusente in die Stormsvlei/Swellendam-area wat nog steeds dringend op reën wag. Hy het genoem dat sommige produsente nie bereid is om teen die huidige swak koringpryse die risiko te neem deur te plant, alvorens dit nie behoorlik gereën het nie.
Willie Smal, ‘n graan- en veeboer uit die Greyton distrik, meen die gebrek aan reën bemoeilik die saaiery, aangesien die onkruide nog nie opgekom het nie, en dus nie beheer kan word nie. Verder het Smal genoem dat die skaapboere se voer begin opraak en dat selfs die plaaslike landboubesighede se voergars voorrade uitgeput is. Daar sal waarskynlik na mielies, wat veel duurder is, oorgeskakel moet word.
Oor die algemeen is Overbergse landbouprodusente egter baie tevrede. Nasionale MPO voorsitter, Déan Kleynhans, wat met graan en suiwel in die Rûens streek boer, het na die 9mm reën wat die vorige nag op sy plaas geval het, as “manna uit die hemel” verwys.
Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van die ODLV, het aangedui dat produsente op hierdie stadium uit soveel oorde negatiewe druk ervaar en weerstand moet bied ter wille van voedselsekuriteit. “Om in ‘n negatiewe bedryfsomgewing die natuur ook negatief te ervaar, is uitputtend vir enige ondernemer”, het King gesê. “Op hierdie stadium is die produsente oorgelewer aan hul sterk geloof om oorlewing te verseker en om steeds hul belangrike bydrae te lewer. Dus het die onlangse reën groot uitkomste gebring en ons vertrou dat die dele wat nog nie reën gekry het nie, ook betyds reën sal ontvang”, het King verder gesê.


















