Reorganisasie van Agri Mega Direksie

Nuusvrystelling uitgereik op 19 Desember 2007 deur die kantoor van die Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega (Orton King).

 

Navrae: Leensie Streicher

 

Tydens ‘n gesellige geleentheid het die Direksie van Agri Mega en die  bestuur van die Overberg DLV onlangs in Bredasdorp afskeid geneem van mnr. Niel  Giliomee wat as stigterslid en eerste Voorsitter van die Agri Mega Direksie  uitgetree het.

 

By die geleentheid het mnr. Giliomee sy hoop uitgespreek dat die dinamika wat  daar tans in Agri Mega as diensorganisasie aan die landbou heers, voortgesit  sal word en dat Agri Mega steeds pionierswerk met betrekking tot die volhoubaarheid van landbou en verál transformasie sal doen.

 

Op ‘n Direksievergadering wat hierdie geleentheid vooraf gegaan het, is mnre. Henk Aggenbach en Dean Kleynhans onderskeidelik in die ampte as Voorsitter en Ondervoorsitter van die Agri Mega Direksie verkies. Hierdie verkiesing het ‘n vakante posisie vanuit die landbou bedryfsorganisasies tot gevolg gehad wat  eersdaags gevul behoort te word.

 

Die verteenwoordiger van NAFU op Agri Mega Direksie, mnr. Adam Williams word vervang met mnr. Augustinus Hendricks, adjunk-president van NAFU in die Wes-Kaap. Mnr. Hendricks sal vanaf die eerskomende Direksievergadering amptelik op die Direksie dien.

 

Mnr. Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega het tydens die gesellige  geleentheid gesê dat die organisasie 'n dinamiese persoon uit sy Voorsitterstoel verloor en dat mnr. Giliomee onthou sal word as iemand wat elke uitdaging van vooraf aanvat en nie stuit vir progressiewe ontwikkeling wat  waarde toevoeg nie. Sy diep getrapte spore in Agri Mega sal as monument gehuldig word. “Die nuwe Voorsitter en ondervoorsitter neem hul posisies in, in ‘n tydvak met groot uitdagings in die landbou, verál gesien in die lig van transformasie waar sake soos grondhervorming en SEB dringende aandag verlang.  Ek glo dat hierdie jonger leiers die realiteite van ons tyd verstaan en daarom die nodige leiding met visie sal gee” het King verder gesê.

 

Mnr. Henk Aggenbach het in sy boodskap gemeld dat Agri Mega tans sy grense verstel om groter impak te maak op landbou in Suid-Afrika. “Agri Mega is ‘n diensinstrument wat optimaal deur die landbou benut behoort te word, verál as voertuig vir georganiseerde landbou met betrekking tot transformasie, beeldbou ensovoorts.”, het Aggenbach gesê.