Sensako/Rûens Kollege Koringblokkompetisie 2009

Tydens ‘n gala-geleentheid in die Overberg Agri Opleidingslokaal in Bredasdorp op 27 Januarie 2010, is die wenner van die Sensako/Rûens Kollege Koringblokkompetisie vir 2009 aangekondig.

Volgens Mnr Wouter Niehaus, die hoof van Rûens Kollege, ‘n privaat Christelike Laerskool in die hartjie van die Overberg, het die belangstelling in die kompetisie hul verwagtinge oortref. Altesaam 42 inskrywings is ontvang. Hy het veral die ouers vir hul betrokkenheid by die skool geloof.

Die kompetisie is ‘n belangrike fondsinsamelingsgeleentheid vir die skool en werk opsommend as soos volg: Produsente skryf (gratis) ‘n hektaar in en verskaf die GPS koördinate van daardie hektaar. Alle bewerkings en reënval word deeglik gemonitor. Uiteindelik word ‘n oesskatting deur verskeie onafhanklike kenners gedoen. 50% van die opbrengs van daardie hektaar gaan aan die skool. Ander skole in die omgewing mag ook voortaan aan die kompetisie deelneem en die opbrengste met Rûens Kollege deel.

Dr Francois Koekemoer van Sensako het Rûens Kollege geloof vir die professionele wyse waarop die projek van die begin af hanteer is. Volgens Koekemoer het Sensako ‘n groot visie vir die projek. Baie belangrike inligting word verkry wat produsente en insetverskaffers in staat stel om resultate en bewerkingsmetodes met mekaar te kan vergelyk.

Insetverskaffers soos Terason, Northmec, Erasmus Vervoer en AG Sprayers het ter ondersteuning aansporings aangebied deur byvoorbeeld ‘n persentasie van elke eenheid wat deur deelnemende produsente aangekoop is, te skenk aan die skool te skenk.

Hiermee die kategorie-wenners:

  • Hoogste opbrengs: De Kock Cloete, Kleinlaagte - 5,06t/ha

  • Hoogste kg/mm reënval: Josua Human, Vaaldam - 15,10kg

  • Hoogste bruto marge: Seppie Morkel, Quarrie - R5002,11

Mnr Kosie van Zyl van Hansieskloof, ook bekend vir sy suksesvolle Agri Dwala-bemagtigingsprojek, is aangewys as algehele wenner van die kompetisie.