Sterk suiwelfokus vir 2009 se Agri Megaweek


Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 4 Junie 2009.
Navrae: Leensie Streicher

Sterk suiwelfokus vir 2009 se Agri Megaweek

Die Jaarlikse Agri Megaweek wat van 15 – 18 September 2009 by die Agri Mega Park in Bredasdorp plaasvind het vanjaar ‘n spesiale suiwelfokus. Verskeie aktiwiteite word vir die Suiwelbedryf aangebied insluitende die Nasionale Jersey Kampioenskappe, die Wes-Kaapse Ayrshire Kampioenskappe, asook die “Queen-of-the-expo” interras Suiwelbees kompetisie. Verder vind die Wes-Kaapse Meester Suiwelboer kompetisie se gala-geleentheid ook tydens die Agri Mega Week plaas. 

Met die Nasionale Jersey Kampioenskappe wat ‘n groot gebeurtenis op die Agri Megaweek program behoort te wees, word daar ook ‘n gepaardgaande Jersey veiling beplan waarna potensiele kopers en belangstellendes kan uitsien. 

Soos verlede jaar kan MPO lede ook die Agri Mega Week besoek via die MPO lede fasiliteit tent met spesiale parkering vir MPO lede. Suiwelprodusente kan verder uitsien na ‘n suiwelwerkswinkel wat sal fokus op die verhoging van melkproduksie in die melkstal wat ook tydens die ekspo gehou gaan word waar top kundiges op ‘n praktiese wyse goeie raad en kennis sal deel. Die bekendstelling van die Wes-Kaapse Skolemelkprogram van die MPO sal ook tydens die Agri Megaweek plaasvind, en behoort nie misgeloop te word nie. 

Ander suiwelvertakkings wat ook by die Agri Megaweek moontlike fokus sal geniet is skaap- en bokmelk. Rasuitstallings word beplan, wat meer lig op die bedrywe sal werp vir belangstellende produsente. 

Volgens mnr Orton King, Uitvoerende Direkteur van die Agri Mega Groep is die Agri Megaweek vanjaar ‘n moét vir suiwelprodusente. “Die Agri Megaweek gaan vanjaar die ideale geleentheid wees vir die suiwelbedryf om onder andere as teenvoeter vir die skommelings in melkpryse, saam aan ‘n oplossing te werk. Ons het ‘n baie prominente fokus op die Suiwelbedryf en ag dit as ‘n belangrike sektor in die landbou”, het King by navraag gesê. 

Vir meer inligting kontak vir Liana Stroebel by 028 424 2890 of besoek die Agri Mega Webtuiste by www.agrimega.co.za