Suksesvolle konferensie vir opkomende landbou in die Wes-Kaap

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 22 Oktober 2008.

 

Navrae: Leensie Streicher

 

Agri Mega het vanjaar tydens die Agri Megaweek in Bredasdorp ‘n suksesvolle konferensie vir opkomende landbouers gehou. Meer as 400 bona fide opkomende boere van so ver as die Sentraal Karoo en die Weskus het die konferensie op 19 September 2008 bygewoon. Die konferensie, geborg deur Landbank, het met die tema “Ek wil ‘n volhoubare opkomende boer wees, help my asseblief!” verskeie sprekers vanuit die landbou en aanverwante sektore op die podium gehad. Die Wes-Kaapse minister van Landbou, Cobus Dowry, was een van die sprekers wat konferensiegangers toegespreek het.

Ook Dr. John Purchase, hoof Uitvoerende beampte van die landboubesigheidskamer en Johan van Deventer van die Freshmark-groep het bydraes gelewer terwyl amptenare van die Departement van Grondsake en Landbank ook  tot die gesprek toegetree het. Terugvoer van Mnr Dudley Adolph van die Wes-Kaapse Departement van Landbou was dat dit die eerste keer was dat hulle werklik ‘n platform gehad het om in direkte dialoog met opkomende produsente te wees op so ‘n groot skaal.

Mnr. Trevor Abrahams, kommersiële opkomende boer en vise-voorsitter van USAAA het by navraag gesê dat die konferensie nie net ‘n sukses was as gevolg van die groot bywoningsyfer nie maar ook omdat opkomende produsente met inligting bemagtig is om ‘n volhoubare verskil in landbou te maak. “Kennis en inligting is baie belangrik vir opkomende boere om suksesvol te wees en as jy bereid is om te leer en as daar verskeie bronne van inligting wat tot jou beskikking is. Hierdie konferensie het egter ‘n sterk konsentrasie van inligting verskaf,” het Abrahams gesê.

Opkomende boere wat die konferensie bygewoon het, was dit eens dat ‘n opvolg konferensie vir volgende jaar ‘n groot behoefte is. Na bewering het daar ook ‘n paar hooggeplaaste persone in opkomende landbou aangedui dat hulle in die toekoms betrokke wil raak by ‘n opvolg konferensie.