Tragedie voor Agri Mega Week 2011

Die tragiese dood van Margarete Uys, 5-jarige dogtertjie van Cobus en Heidi Uys, die voorsitter van die Agri Mega Week 2011 Bedryfskomitee, het die hele landbougemeenskap in rou. Die tragiese gebeure het afgespeel sewe dae voor die aanvang van Agri Mega Week 2011 op Cobys se plaas, Patryskraal, in die Bredasdorp-distrik. Sy het gesterf in `n fratsongeluk, terwyl sy haar eie hoenders op die plaas wou versorg.

Die aankondiging van Heidi se swangerskap met Margarete het juis `n paar jaar gelede tydens die Agri Mega Week van 2005 plaasgevind. Die aankondiging in 2005 het groot opgewondenheid tot gevolg gehad, en die vreugde was op daardie staduim met Cobus gedeel deur die span kollegas, betrokke by die organisering van die Agri Mega Week .
‘ n Bedroefde Cobus en Heidi het gemeld dat Margarete nie kon wag dat vanjaar se Agri Mega Week moet begin nie en sy het reeds `n ooreenkoms met haar ouma aangegaan om haar daarheen te vergesel. Daagliks, vir die afgelope paar weke, het sy haar pa gekonfronteer met: “Wanneer word die tente opgeslaan, sodat die Agri Mega Week kan begin?”. Ongelukkig het die tragedie hom baie ontydig afgespeel en sal haar ouma haar nie vanjaar na die Agri Mega Week kan neem nie.

Mnr King,Uitvoerende Direkteur van die Agri Mega Groep, het die ouers, familie en die toneel op die plaas waar Margarete gesterf het, vandag besoek. Ná afloop van die besoek het mnr King gemeld dat Cobus baie tyd van sy kinders moes gebruik om vrywillige diens aan Agri Mega Week te lewer, en dat hy van mening is dat Agri Mega Week hiervoor erkenning wil gee - verál in die lig van die verlies. “Ons het besluit om Agri Mega Week 2011 op te dra aan Margarete Uys vir haar toegewyde ondersteuning aan haar pa sy in bepaalde rol by Agri Mega Week, en vir haar entoesiasme oor die Agri Mega Week“ het mnr King gesê. “Mag Margarete se entoesiasme vir die plaaslewe `n aansporing vir kinders en ouers wees om betrokke en bewus te raak van landbou en die landbou-omgewing.” het King verder gesê.

Uitgereik deur Agri Mega Promotions op 7 September 2011